Gedagte vir die dag: Geskenke en gasvryheid

 fees_tuin_aand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Lukas 14:7-14

Toe Jesus sien dat almal wat na die ete genooi was, naby die kop van die tafel probeer sit, het Hy hulle hierdie raad gegee: “As julle na ’n bruilof genooi word, moenie altyd die beste plek uitsoek nie. Wat as daar iemand belangriker as jy ook genooi is? (Lukas 14:7-8)

Op ’n onlangse besoek aan Skotland het ons by Jamie Oliver se restaurant, Jamie’s Italian, gaan eet. My mond het oopgehang en ek was soos ’n opgewonde klein dogtertjie. Voor ons loop, wou ek ’n aandenking koop, maar daar was geen pryse op die items nie. Na ’n gesukkel stel die restaurantbestuurder voor ek bestel iets oor die internet. My gesig moes alles vertel het. Toe sy hoor van waar ek kom, sit sy vier lapservette in my hand met die volgende woorde: “Met Skotse liefde aan ’n Suid-Afrikaanse bewonderaar.” Nodeloos om te sê die trane het vrylik gevloei!

In Lukas 14 lees ons van Jesus se gelykenisse oor maaltye. In vers 7-14 handel die gedeelte oor nederigheid en gasvryheid. Jesus waarsku die mense om nederig te wees, want dan sal die gasheer hulle vereer.

Ons moet soms nuut en innoverend dink. Volgende keer as jy mense vir ete wil nooi, kan jy dit op ’n ander manier doen as gewoonlik. Spandeer die geld wat jy vir die ete sou gebruik op kospakkies vir die armes. Jy en jou gesin kan dit dan by ’n spesifieke instansie gaan uitdeel of in die kar klim en gaan uitdeel vir mense wat langs die pad bedel. Die liefde waarmee julle dit gepak het en uitdeel, sal julle pakkie vergesel. Julle sal onmeetbare vreugde ervaar. Dit sal julle so inspireer en met liefde vul dat julle dit ’n gereelde instelling sal maak.

Gasvryheid word deur liefde vergesel. ’n Liefdevolle gewer se hart is vol van die Gees en die liefde van die Here. Maak jou hart oop vir mense, wees gasvry en vrygewig. Seën mense met die liefde van die Here deur goeie gawes aan hulle te gee.

Here, U is die gewer van alle goeie gawes. Maak ons harte oop deur gasvry te wees en mense met liefde te seën. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.