Geskiedenis is nie ’n wapen nie

Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

2 Samuel 21 – Rispa dogter van Aja het toe rouklere gevat en dit vir haar op ’n rots oopgegooi. Van die begin van die oestyd af totdat die reëntyd aangebreek het, het sy bedags die roofvoëls en snags die roofdiere nie aan die lyke laat vreet nie.

Daar is geen liefde wat sterker is as die liefde wat ouers vir hulle kinders het nie. ’n Kind hoef nie sy ouers se liefde te verdien nie. ’n Pa en ma het nie hul kinders lief omdat hulle so goed rugby speel of op skool presteer of so mooi klavier speel nie. Ouers het hul kinders onvoorwaardelik lief, net soos hulle is. Ouers sal alles menslik moontlik opoffer sodat hulle kinders ’n goeie toekoms kan hê.

Ongeveer 1000 v.C. het ’n afgryslike daad op ’n heuwel in Gibea plaasgevind wat die grense van ouerliefde uitgedaag het.

Dit is ’n verhaal met ’n lang historiese aanloop.

  • In die tyd van Josua, toe Israel Kanaän beset het, het die Israeliete ’n vredesverdrag met die Gibeoniete gesluit met die belofte dat hulle en hulle kinders nie doodgemaak sal word nie, maar dat die Gibeoniete hulle slawe sou wees.
  • Koning Saul het dié eeu oue verdrag verbreek en die Gibeoniete doodgemaak.
  • Ná drie jaar van droogte het die leiers na koning Dawid gegaan en wraak teen Saul se nageslag geëis.

Vir die bejaarde koning Dawid was die skuif slim politiek. Ná Absolom se staatsgreep was daar onsekerheid oor die voortbestaan van die bejaarde koning Dawid se koningshuis. Dawid gebruik geskiedenis as wapen om enige aanspraak op die troon deur potensiële troonopvolgers uit ’n ander koningshuis betyds uit te knikker. Vir Dawid was geskiedenis ’n politieke wapen teen sy opponente en vir die Gibeoniete ’n wapen om wraak te neem teen ’n vyand van ouds.

Sonder om die Here te raadpleeg het Dawid die historiese skuld van Israel teenoor die Gibeoniete betaal met die lewe van sewe seuns. Die vyf kleinseuns van Saul se dogter Merab, asook Armoni en Mefiboset, die seuns van Saul se vrou, Rispa, moes sterf vir die onreg van hul vaders.

Die afgryslike word deur Dawid en die Gibeoniete godsdienstig regverdig. Hierdie sewe seuns sal voor die Here op ’n berg aan ’n skandpaal opgehang word as teken dat God en mens, hemel en aarde hulle verwerp. In die naam van die Here sal kinders die prys van die verlede betaal.

Rispa het nie hiermee saamgestem nie.

  • Sy het nie gedink dit is reg dat kinders die prys moet betaal vir die onreg van die verlede nie.
  • Sy het nie gedink dit is billik en regverdig dat kinders moet sterf vir die sondes van hul vaders nie.
  • Toe almal hul rug op haar seuns draai, gooi sy haar rouklere voor God oop.
  • Omdat sy ’n ma is en met ’n ouerhart na haar kinders kyk, pleit sy om genade vir haar kinders.
  • Toe almal rondom die skandpaal juig, deins sy nie terug voor die skande en afskuwelikheid van haar seuns se kruisiging nie.

Sy begin met ’n bomenslike taak van ouerliefde. Hoe sy dit reggekry het, weet ek nie, maar die dogter van Aja, vrou van Saul, ’n koningin van Israel, het dag en nag, van die oestyd af totdat die reëntyd aangebreek het onvermoeid en onafgebroke van skandpaal tot skandpaal gehardloop, sodat die roofvoëls bedags en die roofdiere snags nie aan hul lyke vreet nie.

Toe koning Dawid van hierdie onselfsugtige daad van ouerliefde hoor, was hy so ontroer dat hy vir Saul en sy seuns en sy kleinseuns eervol begrawe het in hul pa se graf.

Eers toe het dit gereën in die land. Eers toe het die Here die land geseën.

Vandag worstel ons steeds met die vraagstuk van historiese skuld. Dit is steeds een van die mees aktuele, maar moeilikste vraagstukke van ons tyd.

Wat maak ons met die pyn van ’n gebroke verlede? Hoe hanteer ons die dood van kinders in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog, of apartheid, of die swart teen swart geweld van die People’s War tydens die tagtiger- en negentigerjare?

Daar is twee keuses.

Ons kan soos Dawid en die Gibeoniete geskiedenis as ’n wapen gebruik. Ons beleef dit bykans elke dag.

  • Met geskiedenis as wapen word mense geëtiketteer en in die beskuldigdebank van die verlede geplaas
  • Standbeelde word bestorm, skoolgeskiedenis herskryf, erfgoedere geplunder
  • Dorpsname, straatname, gebouname, skoolname, name van provinsies sneuwel
  • Kampusse brand
  • Afrikaans word op die regbank, in die staatsdiens en as universiteitstaal vermoor
  • Historiese skuld word as verskoning gebruik vir misdaad, korrupsie, plaasmoorde, geweld en ’n kultuur van vernietiging en breek
  • Verhoudinge bloei

Of ons kan geskiedenis as koerswyser vir ’n beter toekoms gebruik. Daarmee help die Bybel ons.

Die Bybel ontken nie mense se pyn of woede of vrae wat in die verlede opgesluit lê nie. Die Bybel praat historiese onreg nie met ’n valse vroomheid weg nie. Die Bybel is eerlik daaroor. Gaan lees maar die verhale in Rigters, Samuel en die kronieke van Israel se konings. Ons moet ook eerlik oor die pyn in ons verlede wees.

Die Bybel herinner ons egter dat wraak neem en wraak soek nie die Here se seën bring nie. Wraak bring nie reën in ’n land nie. Wie in Suid-Afrika kan immers die eerste klip oor die verlede optel om die ander daarmee te gooi?

Die Bybel is ’n koerswyser wat wys dat Rispa se daad van ouerliefde die droogte in Israel gebreek het, maar God se daad van ouerliefde het die verskil aan die geskiedenis van die wêreld gemaak.

Ons Vader kon dit nie oor sy ouerhart kry om sy kinders in sonde-droogte te laat ly nie. Die Vader het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het om op ’n heuwel aan ’n skandpaal te hang. Anders as Rispa het hy nie ingegryp toe die roofvoëls en roofdiere sy seun aan die kruis verskeur nie.

Geen kind hoef meer die prys van die verlede te betaal nie. Jesus het klaar die skuld betaal. Die verlede se skuld. Ouers se skuld. Kinders se skuld. Gemeenskappe se skuld. Wittes se skuld. Swartes se skuld. Almal se skuld.

Dit is volbring. Dit is die evangelie.

God se weergalose ouerliefde bied die alternatief vir die hantering van ons moeilike historiese vraagstukke.

  • Die alternatief van soek allereers die koninkryk van God.
  • Die alternatief van doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.
  • Die alternatief van moenie die splinter in jou broer se oog soek, terwyl jy blind is vir die balk in jou eie oog nie.
  • Die alternatief van sout en lig wees in ’n donker droogtetyd.

Mense wat met God se ouerhart na mekaar kyk, kyk anders na die verlede en anders na die toekoms. Hulle word vredemakers, sagmoediges, barmhartiges, rein van hart, verdraagsaam en regverdiges genoem.

Dit kan weer reën in ons land. Ons kan weer die Here se seën ervaar. Ons kinders kan lewe in die land. Mits ons soos koning Dawid die verlede met eer begrawe en saam met Rispa kniel voor die kruis van ’n Kind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marco ·

Dit is sinneloos om te wil vergewe die wat nie vir vergifnis vra nie! Ons ondergang is juis dit wat die boodskap hierbo ons wil oortuig om te doen en dit met ‘n verdraaide Christelike smaakie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.