Gedagte vir die dag: Geslyp om te slaag

skape_veld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Jesus vra hom die derde keer: ‘Simon seun van Johannes, het jy My lief?’ Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het ‘het jy my lief?’ en hy antwoord Hom: ‘Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.’ Hy sê toe vir hom: ‘Laat my skape wei’.” (Johannes 21:17 – AFR83)

Ek kry sommer  ʼn knop in my keel elke keer as ek hierdie pragtige Skrifgedeelte lees. Drie maal het Petrus die Here Jesus verloën, drie maal herbevestig Jesus aan Petrus sy roeping. Jesus wou Petrus se gebroke hart daardeur vernuwe en deur sy liefde enige twyfel wat hy moontlik nog kon hê, aangaande Jesus se plan vir sy lewe, permanent uitwis. Net soos met Petrus, is dit ook Jesus se wil vir jou lewe, dat jy jouself met vrymoedigheid en oorgawe sal toewy aan sy nalatenskap.

Meer nog, ons vind die aangrypende wyse waarop Jesus dan hierdie opdrag van herderskap oorgee aan Petrus. Jesus, wat na Homself as die goeie herder verwys het (Johannes 10), gebruik dieselfde beeldspraak wanneer Hy Petrus as opvolger oor sy skape aanstel. “Laat my lammers wei. Pas my skape op. Laat my skape wei.”

Hierin sien ons hoe Jesus Petrus deur alles heen geslyp het om te slaag. Jesus het hom geleer om ander te dien, met hulle ʼn pad tot geestelike volwassenheid te stap, hulle in dié waarheid te onderrig, hulle te beskerm, selfs al kos dit Hom sy lewe (dit is dan ook wat dit Petrus gekos het) en om ander altyd op te bou en te bemoedig om te volhard tot aan die einde van hul wedloop.

Petrus, seker beter as enige van die ander dissipels, het die krag van genade begryp. Jesus verwag van ons om sy voorbeeld te volg en ander op dieselfde manier genadig te wees.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.