Gedagte vir die dag: Gestempel

Jesus_kleed_stiltetyd.jpg

Foto: freebibleimages.org

Dan sal die Gees van die Here kragtig in jou (Saul) werk. Jy sal saam met hulle as profeet optree en ’n ander mens word. (1 Samuel 10:6)

Die Here het die koning vir Israel uitgekies: Saul, die seun van Kis, uit die stam van Benjamin. Deur ’n vreemde sameloop van omstandighede van gewone daaglikse dinge (hy het sy pa se donkies gaan soek) kom hy by Samuel uit wat die opdrag van God kry om hom as koning te salf. God gebruik dikwels “gewone” dinge om groot omwentelinge te bewerk, ook in ons lewe: ’n terloopse ontmoeting, byvoorbeeld. God was selfs in die soekery na donkies teenwoordig. Die digter Milton is hieroor verstom: “He who seeking asses found a kingdom” (uit: Paradise Regained). Die alledaagse en selfs absurde lei tot ’n koningskroon.

Samuel stuur Saul na ’n groep profete en beloof dat die Gees van die Here op hom sal kom en hy ook profeet “en ’n ander mens sal word”. Wanneer hierdie tekens dan oor hom kom, sal hy moet doen wat sy hand vind om te doen, in die besef dat God by hom is. Toe Saul van Samuel weggaan, “het God Saul se gesindheid verander” (v. 9). Hy tree saam met die profete op, sodat die mense vra: “Wat het met Kis se seun gebeur?”

God het hom gestempel as sy besondere werktuig, hoewel Saul dit selfs vir sy familie verswyg het dat hy as koning gesalf is. Die volk moes hom nog amptelik aanwys.

Die Gees van God, soos oral in die Ou Testament, tree in mense op vir ’n besondere taak. Vir redes slegs aan God bekend, is dit een van sy groot metodes om sy liefde en bewaring deur die hele wêreld te stuur. Ons lewe na Pinkster in die liefde en bewaring van die Gees van God. Dit beteken dat as ons glo, hoe gebrekkig-menslik ook al, God ons gestempel het as Syne. Gewoonlik is iets daarvan in ons herkenbaar, al is dit slegs ’n vreemde roering van ’n strewe na aanbidding.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.