Gedagte vir die dag: Getrou aan jou roeping

amilie_sonsopkoms_hou-hande_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo. Almal wat deur die doop met Christus één geword het, se lewe word nou heeltemal deur Christus bepaal. (Galasiërs 3:26-27)

As Christene het ons die groot opdrag ontvang om die evangelie te verkondig. Sommige van ons het predikers geword en ander vervul ons roeping deur lewens te leef wat God verheerlik. Ons is nie almal geroep om evangeliste te wees nie, maar ons word almal geroep om ons lig te laat skyn. Van die doeltreffendste mense is gelowiges wat hulle lig in hulle werkplek laat skyn, in hulle gemeenskappe en in hulle huise.

Voordat die dissipels met die Heilige Gees gedoop is, was hulle vreesbevange. Jesus het reeds teruggekeer na die hemel toe en hulle was alleen, bang en verward. Tog het hulle, soos beveel, gewag op die beloofde Heilige Gees (Handelinge 1:4-8).

Hulle geduld is ryklik beloon – die dissipels is gedoop met die Heilige Gees. Hulle het uitgegaan en die wêreld vir Jesus ingeneem. Hulle het die wêreld op sy kop gekeer. My en jou lewe sal nooit weer dieselfde wees nie, want die dissipels was getrou aan hulle roeping. Ons moet onthou ons het elkeen ’n belangrike rol om te vervul, maak nie saak hoe gering dit lyk nie.

Vader, dankie vir die getrouheid van die dissipels. Soos hulle, wil ek getrou bly aan my roeping. Lei my asseblief in die dinge wat U wil hê ek moet doen. Help my om op U te wag en op U te vertrou in plaas van op my eie wysheid. Amen.

Bron: Vrede in sy teenwoordigheid deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.