Getuienis: Die wrede werklikheid vir ʼn Christen in Afganistan …

Christene van Afganistan moes vir hul lewens vlug nadat die Taliban beheer oor die land oorgeneem het (Foto verskaf)

Die onlangse bekendstelling van Geopende Deure se 2022 Wêreldwaarnemingslys (WWL) het aan die lig gebring dat Afganistan nou die gevaarlikste land in die wêreld is om ʼn gelowige te wees. Dit is die eerste keer dat dié land in die topposisie op die lys is – Afganistan was voor die Taliban-oorname in Augustus 2021 vir baie jare in die tweede plek. Kort op sy hakke is Noord-Korea, wat vir die afgelope 20 jaar die topposisie beklee het, in die tweede plek en Somalië in die derde plek.

Die WWL, wat ʼn jaarlikse lys is van die top-50 lande in die wêreld waar Christene die ergste vervolging ervaar omdat hulle Jesus dien, wys dat een uit elke sewe Christene intense vervolging deurmaak weens hul geloof. In totaal ervaar meer as 360 miljoen Christene oor die wêreld hoë tot uiterste vlakke van vervolging en diskriminasie.

In Afganistan kan gelowiges dit nie waag om openlik as ʼn Christen te leef nie. Die Taliban maak seker dat alle Islamitiese reëls en gebruike eerbiedig word, en dit word as ʼn skande beskou om Islam te verlaat. Die wrede werklikheid is dat Christen-bekeerlinge uit die land moet vlug of summier doodgemaak word – alles omdat hulle Jesus volg.

ʼn Pad van swaarkry…

Een só ʼn getuienis is dié van Zabi, ʼn Christen-vlugteling wat vir haar lewe moes vlug nadat die Taliban beheer oorgeneem het. Sy vertel: “My familie is – net soos alle ander Christene in die land – geheime gelowiges. My pa is maande lank gemartel en toe doodgemaak, en my broer het net eenvoudig verdwyn. Ná die Taliban se oorname moes ek vlug omdat ek besef het dat my lewe in gevaar is. Ek het alles net so gelos en na die grens gevlug, waar ek daarin geslaag het om weg te kom.

“Vandag bly ek in ʼn ander land, maar my toekoms is onseker en my lewe is steeds in gevaar omdat die Taliban weet dat ek ʼn geheime gelowige is en steeds op my spoor is. Ek weet nie wat met my gaan gebeur nie, want my situasie is steeds desperaat. Hoewel ek geld in die bank het, het ek geen toegang daartoe waar ek nou bly nie. My visum gaan ook binnekort verval.”

Zabi vrees dat sy gevang gaan word en terug na Afganistan gedeporteer sal word as sy gevind word. “Ek gaan moontlik in skuiling moet gaan om te verhoed dat ek gevang en summier doodgemaak word. Ek bid dat die Here my sal help om hierdie land te verlaat en na ʼn veilige plek te gaan,” deel sy.

Volgens Zabi het duisende gelowiges in Afganistan eerstehandse ervaring van die gevaar om in hierdie land ʼn Christen te wees en die vinnige agteruitgang wat die afgelope jaar plaasgevind het. Sy sê: “Die Kerk is klein en versprei, talle gelowiges kruip weg omdat hulle vir hul lewens vrees en alle landsgrense is gesluit. Die Kerk het te midde van hierdie ontwrigtende situasie in ʼn kort tydjie baie kwesbaar vir uiterste vervolging geword.”

ʼn Vonk van hoop

Genadiglik het Zabi se pad met dié van Geopende Deure se plaaslike vennote gekruis waar sy as vlugteling leef. Hulle het saam met haar gebid en haar bemoedig om sterk te staan in haar geloof; en haar ook bygestaan met voedsel en ander noodleniging, haar huur betaal en vir haar geld gegee om veilig te bly en te oorleef.

Sy sê: “Danksy die hulp van Geopende Deure en hul vennote het ek nou ʼn vonk van hoop en ʼn kans om te oorleef. Baie dankie aan die Here vir julle voedsel- en klere-aflewerings, finansiële ondersteuning, gebede en bemoediging.”

Staan hierdie jaar saam met ons geloofsfamilie

Ons broers en susters in geloof in Afganistan en in ander lande met uiterste vervolging het jou ondersteuning en gebede nou meer nodig as ooit tevore. Word ʼn vennoot van Geopende Deure om ons geloofsfamilie te ondersteun en Christene wat die ergste vervolging ervaar, staande te hou!

Klik hier om jou GRATIS Wêreldwaarnemingslys-gebedskaart af te laai en begin vandag nog vir jou vervolgde familie bid sodat hulle weet dat hulle nie alleen staan te midde van vervolging nie.

*Naam verander vir sekuriteitsredes en foto slegs ter illustrasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.