Gedagte vir die dag: Getuies vir Christus

mense_brug_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hy het by hulle ingetrek en saam met hulle gewerk, want hulle was tentmakers net soos hy. (Handelinge 18:3)

Die grootste apostel in die Bybel was ’n gewone werkende man. Dis reg! Paulus was ’n tentmaker van beroep. Die dissipels was almal van die arbeidersklas, net soos ek en jy. Petrus, Jakobus en Johannes was vissermanne. Matteus was ’n tollenaar.

Wat ek vandag hiermee vir jou wil sê, is dat Jesus Christus vir my en jou roep om getuies vir Hom te wees selfs al voel ons nie gekwalifiseerd genoeg om dit te doen nie. As dit nie vir gewone mense was nie, het ek en my vrou dalk nie vir Jesus as ons persoonlike Saligmaker ontmoet nie.

Dit het so gebeur: Een Sondagoggend is ons kerk toe. Ek wou nie regtig gaan nie, maar my vrou kon sien dat ek hulp nodig gehad het, want ek was besig om myself in die grond in te werk. Ons is na die klein Metodiste-kerk op ons dorp toe, waar die predikant ’n diens gereël het waar gewone mense getuig. Dit was net gewone mense wat die gemeente vertel het wat Jesus vir hulle gedoen het.

Ek het in daardie kerk gesit en vir die eerste keer in my lewe gesien hoe mans en vroue openlik huil oor die Here Jesus Christus en wat Hy vir hulle gedoen het. Ek kon met hulle identifiseer. Toe die uitnodiging kom om jou lewe vir Jesus te gee, het ons opgestaan. Ons lewens was nooit weer dieselfde nie.

Hoekom is ons almal nie ook lekepredikers vir Jesus nie? Vertel vir die eerste drie mense wat jy teëkom dat Jesus Christus die belangrikste persoon in jou lewe is.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.