Gedagte vir die dag: Getuies

Reenboog_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Lukas 24:36-48

Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan (Lukas 24:45)

Hierdie klompie verse is Lukas se verkorte weergawe van die Tomasse-twee-Sondae-verhaal en dié van die laaste visvangs, wat Johannes met veel meer kleur en geur vertel. Lukas, wat darem eksklusief die Emmausgangers se storie by sy na-opstandingsverhale gevoeg het, wil hiér so gou moontlik by sy boodskap uitkom. Dié verneem ons in die laaste gelese vers: “Julle is getuies van hierdie dinge.”

Getuies moet die Skrif verstaan. Nee, hulle hoef nie kenners of geleerdes te wees nie, hulle hoef nie ’n Bybelvasvrakompetisie te kan wen nie. Hulle moet bloot weet hoe dinge inmekaarsteek, wat die betekenis van Christus se lewe en dood en opstanding is. En hulle moet weet wat hul rol nou is: die verkondiging van alles wat in Christus se Naam moontlik geword het.

Hoe moeilik kan dit nou wees! Dit is tog heel eenvoudig, voor die hand liggend, niks meer nie as ’n elementêre ABC.

Maar, sal ons uit ondervinding weet, gelowiges sukkel selfs met die mees basiese beginsels van die evangelie. Juis Jesuskinders sluk swaar en teensinnig aan sagte melkkossies. Wat die rede daarvoor is, kan ons net raai. Te veel disinformasie wat deur allerlei slimmes en sogenaamde ingeligtes en begeesterdes versprei is, soveel wat eers ontleer moet word? Al die gruis wat eers (moeisaam!) weggewerk moet word voordat die skitterende diamant gevind word?

Dalk vra dit bloot ’n eenvoudige gebed. Iets soos: Here, open asseblief my verstand. Gees van God, waai my kop skoon, sodat ek u Woord suiwer kan oorvertel en roekeloos kan uitleef.

Ag, Here, ek vergeet so gou! Leer my, herinner my. Neem my hande, maak hul sterk. Skoei my voete met bereidheid tot u eer. Maak my hart vir U tot troon.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.