Gedagte vir die dag: Getuig van Jesus

see_oseaan_sonsondergang_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe wonderlik die heerlikheid van hierdie geheim vir alle volke is. Die geheim is: Christus leef in julle. Dit is die vooruitsig dat julle in die hemelse heerlikheid sal deel. (Kolossense 1:27)

Dis belangrik dat ons eerder deur ons leefstyl vir Jesus getuig as deur wat ons sê. Dit is waarom dit so noodsaaklik is dat jy soggens vroeg, voordat jou dag begin, stiltetyd saam met die Here het. Jy moet jou met die Heilige Gees beklee. As jy dit nié doen nie, kan die druk van die wêreld jou oorweldig en moontlik daartoe lei dat jy op maniere optree wat nie ’n kind van God betaam nie.

Onthou dat hoe moeiliker dinge in die wêreld raak, hoe makliker raak dit vir ons om as kinders van God te skyn. Hoe moeiliker dinge raak, hoe meer geleenthede het ons om anders te wees. Wanneer iemand teen ons sondig, het ons die geleentheid om met liefde, genade en begrip te reageer. ’n Goeie stiltetyd soggens sal ons in staat stel om dit te doen.

Jesus het nooit haastig gepraat of opgetree nie; Hy het altyd sy tyd geneem om te luister wat die Heilige Gees vir Hom gesê het en ons moet dieselfde doen. Ons moet tyd neem om eers te luister wat God sê voordat ons tot aksie oorgaan. Maak jou gees en jou siel stil voordat jy die dag aanpak en wees ’n ambassadeur vir Christus – iemand wat anders as die wêreld is.

Laat toe dat die Heilige Gees in jou lewe inkom en gaan maak dan ’n verskil. Wees soos Jesus. Uiteindelik is dit nie soseer wát jy sê wat ’n verskil gaan maak nie, maar wie jy is. Dis jou optrede en jou reaksies wanneer mense jou van iets beskuldig wat ’n verskil maak.

Die vrede wat God jou gee, sal jou getuienis vir die wêreld wees, want daar is nie vrede in die wêreld nie. Jou vrede kom van die Prins van Vrede af en as jy dit deur jou laat skyn in hierdie donker wêreld, sal die Here enduit met jou wees.

Vader God, dankie vir u trou aan al die geslagte. Dankie dat U my die krag gee om uit te staan uit die groep. Mag my woorde en my gedrag u Gees weerspieël wat in my woon. Dankie vir die vrede wat ek in my hart het. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.