Gedagte vir die dag: Gevolge van voortydige seën

namakwa_kokerboomwoud_annelize-brits_stiltetyd.jpegSy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. (Matteus 25:23)

Ons het gister gesê innerlike krag en ’n sterk karakter is die resultaat van volharding, getrouheid en integriteit. Jy het dit nodig om God se seën in jou lewe te kan hanteer. Dikwels toets God ons om te sien hoe ons gaan reageer wanneer ons onder druk geplaas word. Dit kan op baie maniere geskied, maar ons reaksie daarop is wat belangrik is. So baie mense mor en kla oor hulle lewenslot. Paulus gee raad in 1 Tessalonisense 5:16-19, 21-22: “Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. Blus die Gees nie uit nie. Beproef alle dinge; behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad.”

Ons storie van vandag handel oor die drie diensknegte en hulle reaksie op die toets wat hul meester vir hulle gestel het. Elkeen het anders gereageer. Die een talent van die ontroue dienskneg is weggeneem en vir die getroue dienskneg gegee. Die les wat Jesus wou hê sy dissipels uit hierdie gelykenis moes leer, is: “Aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het” (Matteus 25:29).

Die getroue dienskneg het, soos Kaleb, ’n ander gees gehad. Hulle het God met oorgawe gedien en niks teruggehou nie. Hulle het getrou gebly in slegte en goeie tye. Die gevolg was dat nog groter seën aan hulle toevertrou is. Ons verstaan dikwels nie hierdie sleutel nie. Job moes baie lyding en beproewing verduur voordat God alles wat hy verloor het, aan hom teruggegee het. Ons wil alles hê, en ons wil dit nou hê. Net soos die Israeliete, raak ons kwaad en ontevrede as ons nie ons sin kry nie. Ons wil terugkeer na ons “Egipte” en glo dat die lewe daar makliker sal wees. Ons is nie bereid om die prys vir ons seën te betaal nie. Wanneer ons die seën te vroeg ontvang, loop ons gevaar om ons vingers te verbrand. Is jy soos die getroue of die ontroue dienskneg?

My Vader, U wys my dat volharding en getrouheid eienskappe is wat U hoog op prys stel. Ek wil die soort mens wees aan wie U seën kan toevertrou. Help my om eerstens getrou te bly in die kleiner dinge. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Here Jesus help my ek wil elke toets slaag….tot in alle ewigheid

Karina ·

Ek ondervind tydens die virus hier is, het mense al meer terug gekeer na hul geloof toe. Dit is asof die behoefte in jou groter/sterker word om jou geloof te meer te versterk. Het julle dit ook gevind?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.