Gedagte vir die dag: Gevra: ‘n loflied

vrou_uitgestrekte-arms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Psalm 47

Hy het ons besitting vir ons uitgekies, die pragtige land van Jakob, wat Hy liefhet (Psalm 47:5)

Dit was die rede vir Ou Israel se roem, ook in hierdie psalm: die vaste oortuiging dat God self vir hulle hul land gegee het. Hulle het swaargekry en baie ontberings deurgemaak. Maar dit het hulle bly troos: Ons is hier, want God het ons hierheen gebring. Ons is die ontvangers van sy lank beplande seëninge.

Vanuit hierdie vastigheid, met hul voete as ‘t ware stewig in hul grond geplant, kan hulle die hoogverhewe God besing. Die groot Koning oor die hele aarde het hul stukkie aarde vir hulle geheilig.

Oor Hom jubel hulle.

By ‘n terugblik op ‘n geskiedenis – Israel s’n of jou eie mense s’n – moet dit werklik net die stiksienigste sinikus of die onversetlikste ongelowige wees wat nie ‘n ander Hand daarin raaksien nie.

Maar ja, die ontdekking word feitlik uitsluitend by ‘n terugblik gedoen. Wanneer jy en jou mense midde-in ‘n ellendige situasie is, is julle bloot van die oorweldigende oormag en jul eie onmag bewus. Dit is eers wanneer daar afstand kom dat jy regtig kan sien God is hier, Hy is daar, Hy is oral. Hy was nog altyd, is ook nou en tot in ewigheid.

As jy die energie en tyd en die behoefte daartoe het, kan jy die geheimenis probeer uitpluis: Hoekom het mense so os ons so ‘n verbysterend beperkte perspektief? Hoekom slaag ons byna nooit daarin om die groter geheel te sien nie?

Sterkte met die navorsing. Baie geleerdes stoei ook daarmee. Intussen? Sing solank ‘n loflied vir die Koning.

Ek juig oor u goedheid, o Koning! Ek prys U vir u ingrypings in my lewe. Help my om beter te kan sien, en verder.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stephanie ·

Baie dankie vir hd kosbare stukkie, juis vandag. Seënwense

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.