Gedagte vir die dag: Gewer, Bewaarder

reënboog.jpg

Foto: credomag.com

Lees Johannes 17:6-12

“Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U my gegee het … ” (Johannes 17:11)

Jesus se gebed in Johannes 17 is die langste gebed wat ons van Hom het. Hier bid Hy vir sy volgelinge, en spesifiek vir hulle wat Hom in die drie jaar gevolg het wat Hy gepreek en koninkrykstories vertel het, wonders gedoen het, mense genees en hulle op vele ander maniere aangeraak het.

Daarom is dié gebed intiem, persoonlik. Jy voel eintlik sleg dat jy skaamteloos staan en afluister wat Hy alles vir sy Vader sê en vra. Maar, nou ja, Johannes het dit vir ons neergeskryf en daarom mag ons seker maar luister, lees, en dit ter harte neem. Ons is immers ook Jesusvolgelinge.

Dit is opvallend hoe Jesus die eenheid tussen Hom en sy Vader beklemtoon. Hier onderstreep Hy dit vier keer, dík. Hy sê die Vader het die Seun gestuur. Hy verwys na die mense wat aan die Vader behoort, wat Hy toe aan die Seun gegee het. Hy sê iets oor die woorde wat Hy, die Seun, van sy Vader ontvang het. Wat Hy toe uitgedeel het en wat sy volgelinge gehoor en geglo het.  Dan praat Hy oor die Naam wat Hy met sy Vader deel.

Dan vra Hy, die Naamdraer, dat die Vader asseblief sy kosbare volgelinge sal oppas. Die tyd kom nou dat Hy van hulle sal weggaan, terug na die Vader toe, en daarom vertrou Hy hulle aan die Vader toe. Daar is sekerlik niemand anders wat betroubaar genoeg is nie.

Om te dink dat ons soveel werd is! Dat ons só beskerm word. Baie belangrike persone. Adellikes, niks minder nie. Seuns en dogters van God.

Ek is u eiendom. U waak oor my. Dié wete laat my goed slaap, en lekker lewe.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pieter ·

Waar woorde. Belangrik om verder te lees tot by vers 20.

Daar bevestig Jesus dat hy nie net vir Sy oorspronklike volgelinge, die dissipels, gebid het nie, maar ook vir jou en my wat vandag lewe. Hier se Jesus – Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir die wat op grond van hulle (die dissipels) se boodskap nog in My sal glo.

Wat n voorreg om te weet dat Jesus terwyl Hy op aarde was, toe reeds vir jou en my persoonlik in Sy gebed betrek het. En so is dit steeds waar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.