Gedagte vir die dag: Glimlag

prys-God-Stiltetyd-Pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wees altyd bly omdat julle weet dat julle aan die Here behoort. Ek sê dit weer: “Wees bly!” (Filippense 4:4)

Geloof en gebed het baie krag, maar moenie die krag van blydskap en ’n opregte glimlag onderskat nie. Dit is meer aansteeklik as masels – toets dit gerus op ’n onvriendelike gesig! En die wonder is, daar is nie nadele aan verbonde om blydskap te versprei nie. Dit lig die gemoed van die gewer én die ontvanger.

Ek het ’n rukkie gelede ’n baie insiggewende artikel oor depressie gelees. Een van die gratis teenvoeters vir depressie, volgens hierdie artikel, is om te leer glimlag – selfs al voel jy glad nie op daardie oomblik lus om te glimlag nie. Fake it till you make it.

Daar is bevind dat jou serotonienvlak styg wanneer jy glimlag. Jy kry ’n gratis lift wanneer jy jou mondhoeke opwaarts laat krul in plaas van afwaarts. Selfs al kan jy aanvanklik net een tand wys, en nie al twee en dertig nie, sal selfs ’n piepklein glimlag jou gemoed ligter laat voel.

Het jy al vandag geglimlag? Of is jou mond in ’n dun en onversetlike potlootstrepie getrek? Dalk is dit dan tyd om ’n tand te wys. As gelowiges het ons die opdrag ontvang om bly te wees omdat ons aan die Here behoort. Hierdie opdrag word selfs herhaal sodat ons dit ernstig sal opneem.

Dink net aan die impak wat jy met jou glimlag op ons land kan hê. As ons elkeen net kan leer om een ander mens elke dag met ’n blye glimlag van die Here te groet, kan dit ’n hele land vol bruisende sonskynmense tot gevolg hê!

Here, help my om elke dag bewustelik te glimlag tot eer van u Naam.

Bron:
Bruistablette vir die lewe deur Susan Coetzer
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SNEL ·

Filipense 4:4 Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle. Niks van omdat julle aan die Here behoort nie. Dis jammer dat die Bybel met vertalings dinge by kry of selfs dat tekse soos met die grootdoop uitgehaal word. Waaroor doen hulle dit? Die 1933/1953 vertalings bly die beste. Selfs in die Engelse vertalings bly hulle eg aan die oorspronklike Woorde, maar in Afrikaans karring hulle so en verander eintlik die hele oorspronklike vers. Mens kan mos nie net dinge insit omdat jy voel dit moet daar wees of omdat jy dink dit sal vorige tekse nou beter verduidelik nie. Dis baie hartseer en kerke gryp altyd na die nuutste Bybel wat nou weer vertaal is, pleks bly hulle by die 1933 vertaling. Ek is altyd so dankbaar as ek hoor die 1933 vertaling word gebruik, vars van die oorspronklike Hebreeus en Grieks, niks verander of weggelaat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.