Gedagte vir die dag: Glo net

reenboog_perde_veld_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. (Hebreërs 11:1, Bybel in  Afrikaans 1983/1992)       

Daarop sê die Here vir Abraham: “Hoekom het Sara gelag? Hoekom het sy gesê: ‘Kan ’n bejaarde vrou soos ek regtig ’n kind in die wêreld bring?’ Is daar enigiets wat te moeilik is vir die Here? Ek sal oor ’n jaar terugkom en dan sal Sara ’n seun hê.”  (Genesis 18:13-14)

Dalk is dit wat die Here vandag vir jou vra omdat jy ook in een of ander moeilikheid is. Is enigiets te moeilik vir die Here Jesus om jou mee te help? Onthou, Hebreërs 13:8 sê: “Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!” Hy is die God van wonders.

Sara en Abraham was amper 100 jaar oud toe hulle ’n kind gehad het. Dit was die begin van die volk Israel, en almal van ons wat glo dat Jesus Christus die Seun van God is. Openbaring 1:8 sê God is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Is daar enigiets wat te moeilik is vir die Here?

Ek wil jou vandag aanmoedig om regtig jou geloof in God te begin stel. Hoe kry jy daardie geloof? Geloof kom deur die Woord van God te hoor (Romeine 10:17). Wanneer jy tyd maak om jou Bybel te lees, sal jou geloof toeneem.

Ons leef in vreeslike tye. Daar is soveel dinge wat verkeerd is, en ons sê: “Here, help ons!” En God sê: “Glo net.” Glo net dat God jou sal dra – wat ook al oor jou pad kom.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U ons nooit alleen laat nie al voel dit nie so nie….U beloftes sal U nooit breek nie..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.