Gedagte vir die dag: Glyende voete en innerlike onrus

 rots_waterval_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring. (Psalm 94:18, 19) – Bybel in Afrikaans 1983/1992

Dis maar hoe die lewe verloop – glyende voete en onrus hier binnekant. Ons is nie altyd so vas op ons voete as wat ons dink nie. Soms is dit juis wanneer ons meen om so maklik loshande te loop, dat ons die maklikste gly en val. Die digter van Psalm 30 stel dit duidelik: “Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesê: ‘Niks sal my ooit laat wankel nie.’ Deur u goedheid het U my op ’n veilige berg laat staan, Here. Maar toe U U aan my onttrek het, het ek baie bang geword” (Psalm 30:7, 8, Bybel in Afrikaans 1983/1992).

’n Mens moet tog nooit sê “niks sal my ooit laat wankel nie”. Ons is maar baie broos. Daar kan dinge gebeur wat ons voete onder ons uitslaan. Dan is dit belangrik om te weet dat die Here jou anker is, dat sy goedheid jou staande hou.

En dan die onrus. Dis daardie gevoel van onmag en onsekerheid. Jy voel uitgelewer en blootgestel. Watter kant toe nou? Dis dan wat jy jou op jou hemelse Vader se skoot moet tuismaak. Voel sy arms rond om jou en ervaar sy troos.

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.