Gedagte vir die dag: God boer met genade

Paternoster_vissers_boot_see_strand_Sune.jpg

Foto: Suné van Heerden

Lees: Miga 7:15-20

Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. (Miga 7:18-19)

Doktor Murray Janson het ’n boek geskryf met die titel God boer met genade. Miga vertel ons hoe hierdie boerdery met genade bedryf behoort te word: God se genade vir sy kinders is eindeloos – ons kan dit nooit uitput nie. Daar is altyd nóg genade vir ons beskikbaar. Hy sal ons weer (en weer!) genade betoon, is Miga se boodskap. Hy sal ons sondes tot niet maak. “Al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, sal Hy onder sy voete vertrap,” lui Miga 7:19 in Die Boodskap. Maar Hy doen nóg meer: “Dit sal so goed wees of hierdie verkeerde dinge nooit eers gedoen is nie.”

God se genade is ook aan jou adres gerig, Hy sluit jou in by sy genadeverklaring. Al is jou sonde hóé groot, is Hy slaggereed om vir altyd ’n streep deur hierdie sonde te trek, om dit volledig uit te wis, dit in die diepsee te gooi sodat niemand ooit daarvan sal weet nie. God dink dan nie eers meer aan daardie sonde waaroor jy so wroeg nie. “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu” beloof die profeet Jesaja (Jesaja 1:18).

Neem nou God se genade vir jou en laat Hom toe om elkeen van jou sondes vir goed uit te wis.

Vader, ek loof U dat U met genade boer, dat daardie genade wat vir my volkome uitwissing van elkeen van my sondes beloof, nou myne kan wees. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.