Gedagte vir die dag: God dra ons

Die uitsit oor die woestyn vanaf Duin 7 Foto: Marianne Styan

Die uitsig oor die woestyn vanaf Duin 7 Foto: Marianne Styan

Julle het in die woestyn ondervind hoe die Here julle God julle die hele pad waarlangs julle tot hier toe gekom het, gedra het soos ’n man sy seun dra. (Deut 1:31)

Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp! (Ps 68:20)

Die ewige God is ’n skuilplek, sy arms is altyd onder jou. (Deut 33:27)

Die Bybel praat oor God in menseterme. Vir die Bybelskrywers het God hande en voete en oë. Natuurlik kan dit nie anders nie, dis mos hoe ons dink en praat. Ons vergeet soms dat God nog veel groter en wonderliker is as wat ons kan dink. Maar dis reg so, God gee nie om dat ons so aan Hom dink nie. Trouens, Hy stel Homself so aan ons bekend. En een van die mooiste dinge wat daar oor God gesê word, is dat Hy ons dra. Nou moet ek erken dat ek die meeste van die tyd nie gedra wil word nie. Ek wil self loop waar ek wil loop, my eie ding doen. Maar dit is nou maar net hoe my hardkoppige menslike kant te werk wil gaan. Daar kom tye wanneer ek uitgeput is na liggaam en gees, en dan is daar vir my geen groter troos as om te weet dat God my dra nie. Ek moet net oorgee. Ek moet net ’n slapnekbaba in sy arms word.

Dis ons probleem, ons wil nie altyd so graag heeltemal afhanklik in God se arms word nie. Ons is net te selfstandig. Maar al wat dit van ons vra om te kan ervaar dat God ons dra, is ’n kinderlike afhanklikheid. Jesus se saligsprekinge begin met ’n afhanklikheidsverklaring: Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is (Matt 5:3). Kom ons sê dit só: Geseënd is hulle wat gewillig is om deur God gedra te word.

Wees rustig, God se arms is onder jou.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

julie ·

Deut 1.31 absoluut so gepas vandag hier in die droe Kalaharie…….DIT REEN!!!!!!! Dankie Here

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.