Gedagte vir die dag:  God gee om!

karoo_vlakte_2stiltetyd.jpeg

Foto: A. Brits

Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete gehoor. (Eksodus 3:7)

Die tweede les wat Moses geleer het, is: God gee om! Vir Moses én ook vir die Israeliete. “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete gehoor. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry.” In die antieke tyd het die mense anders oor God of die gode gedink. Die gode was  hardvogtig en jaloers en moes met gebede gepaai en met offers omgekoop word. Vir die Grieke, weer, was God veraf en afsydig, nooit betrokke nie.

Maar dis nie wat die Bybel sê nie. Die Ou Testament vertel dat God omgee, dat Hy sy hand uitsteek om mense in hul nood by te staan. Dis hoe ons Jesus leer ken. By sy “intree-preek” in sy tuisdorp het Jesus Homself bekendgestel as die Messias wat gekom het om die evangelie aan armes te verkondig, vrylating vir  gevangenis, herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar aan te kondig (Luk 4:19). Dwarsdeur sy bediening het Jesus sy hande uitgesteek na siekes, melaatses, na almal wat ly en in nood is.

Dis ook óns tweede les: God gee om – vir ons, maar ook vir almal om ons wat swaarkry. En net soos met Moses die geval was, stuur Hy ons om met sy oë na die mense om ons te kyk, om met sy hande te verpleeg en te sorg. Waaraan sal Jesus op die dag van sy wederkoms weet wie Hom op die geloofsavontuur gevolg het? “Ek was honger … Ek was dors … Ek was ’n vreemdeling … sonder klere … siek … in die tronk”. En julle het My versorg – of nie versorg nie (Matt 25:31-46).

Dit gee ’n mens baie om oor te dink, elke uur vandag.

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

FM ·

Die wonder van ons Here se betrokkenheid en reddende hulp word deur al die eeue ervaar tot vandag. HY IS EK IS.

Amen

Yvonne ·

Dankie Here deur Jesus Christus het ek God se hart leer ken met my menslike verstand….U gee om!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.