Gedagte vir die dag: God gee rus en kalmte

Boekevat Foto - Sonsopkoms oor dam

Foto: Christo Brits

Lees: Psalm 131

Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd. (Psalm 131:2-3)

Wanneer die psalmdigter hier met God praat, het hy van sy stres en angs ontslae geraak en God se rus en kalmte sy eie gemaak. Die rede waarom die psalmdigter, wat al so dikwels sy eie kommer en angstigheid na God gebring het en Hom om hulp gesmeek het, dit nou kan regkry om rustig te wees, is omdat hy hom nie langer bekommer oor dinge waaraan hy niks kan doen nie, maar geleer het om daardie dinge aan God oor te laat. ’n Baba wat in die arms van sy moeder is, is oor niks bekommerd nie; daardie baba weet instinktief dat sy ma sal sorg.

En dit is wat jý moet leer doen. In jou eie tye van kommer en angs wanneer jy nie langer jou probleme self kan hanteer nie, moet jy jou hoogmoed laat staan en God toelaat om vir jou sy rus en kalmte te gee. Al voel dit dalk nie op die oomblik vir jou so nie, is Hy volkome in beheer van jou lewe. Hy onderneem dan ook om vir jou te sorg soos wat ’n ma vir haar baba sorg. Raak tevrede by die Here, soos ’n baba tevrede in sy ma se arms is; wees bereid om op die Here te wag, nou én in die toekoms, en God se blywende rus en kalmte sal joune wees.

Here God, ek wil nou my kommer laat staan oor al die dinge in my lewe wat ek nie kan verander nie, en U toelaat om u vrede en kalmte in my lewe te ontplooi. Ek is bereid om op u antwoord te wag. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.