Gedagte vir die dag: God genees gebroke mense

geneesPsalm 147:3 – Hy troos elkeen wat hartseer is. Die seerplekke wat die lewe gee, maak Hy weer gesond.

Ai, ek geniet my kleinkind baie – ʼn 16 maande oue dogtertjie. Ek wil haar behoorlik opdruk en soen. Die afgelope vakansie was sy saam met ons familie by die see. Sy is so kordaat op daardie twee wankelrige beentjies en het die sand en die see verskriklik geniet. Die een dag het ons haar na ʼn diereplaas vir kindertjies gevat en daar vir haar kossies gegee vir die diertjies. Te oulik het hulle dit uit haar hand kom eet. Ongelukkig is een vark toe baie gulsig en byt haar vinger verskriklik seer. Ons moes hospitaal toe jaag en die klein vingertjie moes vier steke kry. Lang storie kort: Sy is heeltemal gesond met geen skade nie. Daar is egter sekere pyn en seer waarvoor pleisters en steke nie help nie. Dis die pyn wat ʼn mens opdoen wanneer ander mense jou ongenaakbaar bykom, uitbuit, slegsê of afransel of as jy of iemand naby jou deur siekte of dood getref word. Die seer van ongebroke verhoudings kan nie deur ʼn dokter of by Ongevalle genees word nie. Dis oor hierdie seer wat die Psalm skryf – die seer waarvoor jy die groot Geneesheer nodig het. Jou Vader-God is die Een wat volmaak kan gesond maak sonder om pleisters te plak. Jou deernisvolle God vra dat jy in tye van pyn en seer na Hom sal draai en Hom sal vertrou vir volkome genesing. Ja, Hy troos elkeen wat hartseer is. Jy maak die seerplekke van die lewe gesond.

Die Here vertroos ons nie om ons te vertroetel nie, maar om van ons vertroosters te maak. – James Jowett

Gebed: Here, dankie dat ek na U kan draai in my pyn en seer. Dankie dat U elkeen wat hartseer is, troos. Maak my gesond, asseblief, Here.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Carla ·

Ek word daagliks verras deur God se Liefde. Hierdie boodskap kon nie op ‘n beter tyd gekom het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.