Gedagte vir die dag: God Genoeg

Reenboog_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 50

Ek sou jou nie vra as Ek honger sou kry nie, want die aarde en alles wat daarop is, behoort aan My. (Psalm 50:12)

Dit is klaarblyklik ’n ou-ou misverstand, dié dat mense – gelowiges – reken die Here het hulle nodig. Dan sal hulle lawwighede kwytraak soos: “Ek moet ‘ja’ sê, want God het my nodig.” Of: “Ek sál gaan, want God het my nodig.” En daardie ou gunsteling: “Die Here het haar kom haal, want Hy het haar nodig gehad.”

Dit is heeltemal verkeerd om so te dink of te sê, hoe opreg dit ook al bedoel word. Ook Psalm 50 trek ’n streep deur dié misplaaste vroomheid. ’n Mens kry hier selfs die indruk dat sulke “God het ons nodig”-uitsprake gevaarlik naby aan laster gaan draai.

Nee, God is groot. Hy het genoeg aan Homself. Daarom het Hy niks van niemand nodig nie. Juis nie van hulle wat Hy in die lewe geroep het nie. Hulle – ons – het Hóm nodig, altyd, altyd, en vir alles. Dit is nooit andersom nie.

Daarom, sê die psalmdigter, is dit sy skepsels se enigste offer: om Hom te loof in alles wat ons sê en doen (vgl. v. 14). Ons lewe is ons lofoffer aan Hom. Ons doen en late, ons spreke en ons swye – dit is waaruit ons lofoffer bestaan. Kortweg: Ons het Hom nodiger as enigiets of enigiemand om ons met hierdie lewe te help.

Dit is hierdie God wat ons “amen!” en ons “halleluja!” is. Hy is die Gewer en ons die dankbare ontvangers. Hy is die Voorprater en ons sy napraters. Hy is die Doener en ons die na-apers.

Ons is sy beelddraers, en Hy is ons God Genoeg.

Ons halleluja-Here! Hoe lieflik is u Naam oor die ganse aarde. Hoe glansryk u majesteit. Wat is die mens dan dat U aan ons dink …?

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Vader, Seun en Heilige Gees vir genade dat U ons eerste liefgehad het…Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.