Gedagte vir die dag: God heers oor tyd

God-met-mag-oor-dood

Foto: Argief.

Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag. (Genesis 1:3-5)

Om te dink God het vier woorde gespreek: “Laat daar lig wees!” en die skeppingsproses is aan die gang gesit. Hy het geen helpers, geen middele nodig gehad nie, Hy het uit niks geskep. Hy het beheer oor donkerte en chaos en om dit te bevestig gee Hy name aan die lig en duisternis. Hy is die Skepper – God, die Almagtige, Hy tree op met majesteit en krag. Hy heers oor tyd. Hy is meer as tyd en groter as ons vrees vir tyd.

Soms voel dit vir ons of God bitter lank neem om in te gryp in ons lewe. Wanneer dit met ons swaar gaan, sleep die dae teen ’n slakkepas voort. Skep moed, want God benader tyd anders as ons, Hy was daar voor tyd en sy tydsberekening met ons is altyd perfek.

Iemand het die gedagte dat God bo tyd verhewe is eenkeer mooi verduidelik deur die volgende beeld te gebruik: Hy het genoem dat God jou lewenskalender voor Hom het en terug en vorentoe deur die dae kan blaai, waar ek en jy net die hede en gisters kan sien. Omdat God vorentoe en agtertoe kan kyk, sien Hy soveel beter as ons, Hy sien meerdimensioneel waar ons slegs eendimensioneel sien. Hy ken ons toekoms, ons tyd is in sy hande. Ralph Waldo Emerson het gesê: “Die jare leer ons wat die dae nie weet nie.”

Dit is ons plig om ons tyd, ’n gawe uit God se hand, na die beste van ons vermoë te benut en God daarmee te eer. Wat ’n voorreg om elke oggend jou beursie met nog 24 uur gevul te kry! William Askinas het gesê: “Moenie bespiegel hoe jy jou tyd gaan gebruik nie – gebruik dit net.” Onthou, tyd is min, en verlore tyd kan nooit teruggevind word nie.

Gebruik jou tyd verstandig, prioritiseer, maak tyd vir dit wat ewigheidswaarde het. Elke sekonde tel en is kosbaar en as dit verby is, kan ons dit nooit terugkry nie.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.