Gedagte vir die dag: God het jou innig lief

Herder_skape_veld_stiltetyd.jpg

Foto: carbonchurch.com

Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape … hulle sal een kudde wees met een herder. (Johannes 10:14-16)

Het jy geweet dat Jesus Christus die afgelope 2 000 jaar ’n groter invloed as enige ander mens op die wêreld gehad het? Daar is niemand, geen groter leier of rolmodel as Jesus Christus in die geskiedenis van die mensdom nie. Sy lewe het ’n onbeskryflike trefkrag en invloed op die mensdom gehad en sal dit nog vir jare doen.

Ek dink een van die hoofredes waarom Jesus so ’n reuseverskil in hierdie wêreld kom maak het, is omrede Hy God se liefde kom demonstreer het. Jesus het vir ons kom leer dat ons niemand mag verstoot of verwerp nie, nie ’n prostituut of melaatse of skelm tollenaar of Samaritaan (iemand van ’n ander ras of kultuur) nie, en nog meer. Hy het vir ons kom wys dat God se liefde onbegryplik en onvoorwaardelik is.

In hierdie teks vergelyk Jesus sy liefde vir ons met dié van ’n goeie herder wat sy skape (ons, sy kinders) op so ’n wyse beskerm en liefhet dat Hy selfs sy lewe vir ons aflê. Destyds het herders by die ingang van hulle skape se kraal geslaap. Enigeen wat sy skape leed wou aandoen, moes verby die enigste ingang kom waar die herder waggehou het; ’n goeie herder sou sy skape met sy lewe beskerm.

Jesus sê: Soos die herder omgegee het vir elke skaap só gee Hy, die goeie Herder, sy lewe vir sy volgelinge wat sy stem ken. Jesus is die ingang en die goeie Herder.

Die beeld van die goeie herder wat Jesus hier gebruik, beklemtoon weereens God se liefde vir ons. Sy liefde is allesomvattend en allesdeurdringend, dit strek wyer en verder as wat ons ooit kan dink. God se liefde vir ons is bokant ons begrip.

Dalk is jou gemoed vandag onrustig – rus in die wete dat God jou oneindig liefhet, jy is vir Hom kosbaar.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lizelle ·

Die beelde wat Jesus so dikwels gebruik het om konsepte op ‘n eenvoudige wyse oor te dra, is kragtig. As ek iewers deur die platteland ry is min dinge vir my so mooi soos skape wat sonder sorg of stres in die veld wei. Die beeld wat vandag se dagstuk oproep stem my sienl tot soortgelyke rustigheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.