Gedagte vir die dag: God het ’n afkeer aan geestelike hoogmoed

agent-vir-God

Argieffoto

Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn … Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee. (Romeine 14:10, 12)

’n Tyd terug vertel ’n vrou vir my dat die ergste verwerping wat sy nog ooit beleef het van “kerkmense” gekom het. Ek het al soveel keer met mense te doen gekry wat sê Christene wat gedurig oordeel het hulle uit die kerk gedryf, of hulle het die woorde gebruik: “Ek het in die kerk seergekry en daarom gaan ek nie meer soontoe nie.” Dit is hartseer om te dink dat mense kerk toe gaan om God se liefde daar te vind en dan eerder te doen kry met mensgemaakte reëls en veroordeling van Christene.

Soms gebeur dit wanneer mense ’n geestelike verdieping in hulle verhouding met God beleef, hulle dan begin dink hulle is “meer Christelik” as ander gelowiges – sulke mense sien dikwels neer op ander en is baie vinnig om te oordeel. Paulus waarsku gereeld in sy briewe teen dié soort optrede. Hy beklemtoon ons is nie bevoeg om te oordeel nie. Die oordeel kom God toe vir wie selfs mense se motiewe nie verborge is nie.

Geestelike hoogmoed bring maklik skeuring onder Christene en vernietig die liefde wat veronderstel is om tussen kinders van die Here te heers. Ek en jy ken nie die kamers van ons medegelowiges se hart nie, ons weet nie regtig hoe hulle verhouding met God lyk nie en daarom kan ons nie daaroor oordeel nie. Ons moet eerder sorg dat ons doen wat die Here van ons verwag, want ons sal oor ons eie doen en late rekenskap moet gee.

En ja, al stem ons nie altyd saam met alles wat ander gelowiges glo of doen nie, gee dit ons nie die reg om op hulle neer te sien of hulle te veroordeel nie. God verwag nie van ons om almal se oortuigings goed te keur nie. Hy verwag wel van ons om mekaar lief te hê.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Ansa ·

Goeie more ja ek het ook seergekry in die kerk en sommer baie ook.Gelukkig het God my bygstaan en ek is verlos van die dinge wat my seergemaak het .Prys die Here daar voor.Geseende dag vir almal ?

Johann Smith ·

Die Woord van God is in ons eie taal aan ons gegee om te lees, te bestudeer en oor te dra aan ander. Ons moet nie altyd agter die liefde skuil om nie God se opdrag uit te voer nie. As ons iemand iets teenstrydig met die Woord van God sien doen is ons nie noodwendig hoogmoedig om die person tereg te wys nie. Die Woord van God waarsku ons ernstig in Esegiel 33. Laat Hy nie die bloed van die goddelose van ons hoof ys deur ons nie die goddelose gewaarsku het nie. Laat hy wat ‘n oor het luister en hy wat ‘n oog het sien wat die Woord van God van ons verlang en nie net verstrengel word in die humanisme nie.

J. M. ·

My dierbare pa was so seergemaak deur die kerk dat dit hom van God vervreem het. Hy is oorlede sonder versoening met God. As kind het ek dus nie kerk toe gegaan nie en ek het my kind ook nie laat kerk toe gaan nie. Dus 3 Generasies vervreem van God as gevolg van hoogmoed, oordeel, leuens en skinderstories.

not in wonderland ·

Hy kon dalk in sy hart ‘n versoening gehad het met God. Jy hoef ook nie in die kerk te sit om ‘n versoening met God te hê nie.

Elnette ·

Ek het na ‘n nuwe dorp verhuis en sukkel baie met vroulike gemeentelede se jaloesie in die nuwe kerk. Hulle is minstens 30 jaar ouer as ek en behandel my asof ek hulle mans wil steel (ek is alleen). Ek het verlede Sondag een se hand ‘n drukkie gegee toe staan sy op en gaan was haar hande. Sy het my so aangegluur ek voel al heel week sleg. Bid asseblief vir my mede gelowiges en kinders van God, ek kry swaar daar en is op die punt om die kerk maar te groet.

Trudie Nel ·

Ai…dis so hartseer Elnette. Sterkte en moenie jou hoop op God verloor nie.

Hannah ·

Elnette… hoe gaan my hart nie uit na jou vanoggend! Ek is 22 jaar gelede geskei – wat ‘n traumatiese belewenis was dit nie. Die aanpassing – die stryd om jou kinders en jouself staande te hou. Die vrouens wat jou ewe skielik begin vermy en jou vriendekring wat stelselmatig begin krimp. Daar het ek die besluit geneem om vir eers weg te kyk van myself en op die kinders te fokus om hulle so heel moontlik hierdeur te bring – en met GOD se genade het dit goed gegaan. Ek moet erken ek het totaal en al platgeval toe hulle die skool verlaat het en universiteit toe is. Moet egter nie vir EEN oomblik dat die VADER nie weet waardeur jy gaan en wat jy beleef. Bly net vra dat HY die regte mense oor jou pad sal stuur. HY is getrou en daar wag wonderlike seen vir jou! Hou net aan vra! Voorspoed, seen, goedheid en guns vir jou! xx

Elnette ·

Baie dankie vir julle bemoedigende woorde en vriendelikheid Trudie en Hannah. Ek wil net die Here loof en my offergawe gee want Hy is so ongelooflik goed vir my. Liefde en seëninge.

Anne ·

Dis regtig skokkend dat jy so iets moes beleef, hoe wreed kan party mense wees .
Ek stuur ‘n drukkie vir jou, jy klink darem so ‘n aangename siel. Sterkte & liefde

Danie ·

Ons is ‘n bly mense. Ons word nie outomaties gelyk aan God omdat ons in Hom glo nie. Geestelike hoogmoed kan jou aan beide laat laat eindig. Die “ek is reg” kan veroorsaak dat jy of dink die “kerkmense” is altyd reg of dat die “kerkmense” altyd verkeerd is. Een van die belangrikste boodskappe wat Jesus telkens herhaal het is dat ons mekaar moet vergewe. Jy kan die balk in die oog hê maak nie saak aan watter kant jy staan nie. Ironies genoeg (dalk eerder ‘n les wat God aan ons leer) eindig elkeen van ons telkens aan beide kante. Wanneer ons vergewe soos Hy ons eers vergewe het genees die wonde en kan ons mekaar as een familie aanvaar en verdrae.

Nicolette ·

Christene moet ook net onthou, as jy as geredde Christen deur die kerk gedissiplineer word omdat jy van die pad afwyk, is dit nie geestelike hoogmoed nie. Dis soos om jou kind pakslae te gee – nie lekker nie maar nodig om hom op die regte pad terug te bring. Dit word uit liefde gedoen. Ja, kerke is gevul met mense en mense is beslis nie perfek nie. Maar die doel moet wees om God te verheerlik. En dan aan die ander kant, mens kannie beheer wat met jou gebeur nie, maar wanneer die water warm raak, watter geur kom uit jou teesakkie? Jy kannie beheer wat met jou gebeur nie, maar wel hoe jy reageer. En bring dit glorie aan God? En onthou ook, “nice’ness” bring jou nie in die Hemel nie. So passop om dit die maatstaf te maak.

Gerrit ·

Ek kry nie lekker die verband tussen die artikel se inhoud en die opskrif nie? Ons as christene het in ‘n verwarring geraak omdat ‘kerk’ ‘n hoër rangorde as God, Jesus of die Woord begin dra het. Ons ken nie meer die verskil tussen ‘vermaan’ en ‘oordeel’ nie. Vir die ontvangers daarvan val dit meesal slegs in die kategorie van ‘jy oordeel’. Mens mag nie meer vandag enige iemand ‘teregwys'(vermaan) nie…nie eers jou kind nie…dan oordeel jy. Om te oordeel is ‘n onaanvaarbare optrede deur christene maar pasop vir ‘net liefde’ sonder onderrigting en teregwyssing… jy kry ‘n verwronge mens of kind wat voel almal/die lewe skuld hom of haar iets met ‘n selfregverdiging wat vir niemand terugstaan nie… dit ontaard moontlik in die trots en eie waan wat die skryfster na verwys???!!!

Louisa Cromhout ·

Ai sterkte …..dis soo hartseer…..hou jou kop hoog en hou aan God dien….

Ansa ·

Ai ai Elnette ek is so jammer dat jy ook so moes seer kry Ek bid vir jou en weet net God sluimer of slaap nooit so Hy sien alles raak. Gaam jy net aan in die kerk en konsentreer baie op Die Here en vergeet van wat om jou aan gaan Hy is in beheer.Ek het Sondag ook gehoor van n persoon wat seergekry het en hy het gese hy hou hom doof en blind vir die mens en lewe net vir God.STERKTE

Adri ·

As ek die artikel reg lees gaan dit oor Christene wat ander beoordeel omdat hulle nie kerk toe gaan nie en nie die reg het om te oordeel nie. Hoe is dit dan dat hierdie mense wat nie kerk toe gaan nie omdat iemand by die kerk hulle sleg behandel wat wanneer daar getrou, gedoop of begrawe moet word dan eweskielik weet waar die kerk is? Ek het al ‘n begrafnis bygewoon waar die dominee nie die oorledene of sy geliefdes geken het nie en heeltyd hulle name verkeerd uitgespreek het. Ek het later begin wonder of ek by die regte begrafnis was. Ek gaan nie kerk toe om deur ander gesien te word nie, en as ander my sleg behandel is dit op hulle gewete. Ek gaan kerk toe om die Here te dien. Daar staan immers in Spreuke geskrywe dat dit van ons verwag word om die huis van die Here te besoek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.