Gedagte vir die dag: Maar God het ons innig lief

Foto: imageprest.com

Foto: imageprest.com

Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings saam met Christus le wend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Jesus Christus het Hy ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee. (Ef 2:4-6)

Ek en jy is as sondaars gebore. Máár God, so sê Paulus, is ryk in barmhartigheid en Hy het ons innig lief, ten spyte van ons sonde. Omdat Hy ons liefhet, het Hy ons saam met Jesus lewend gemaak sodat ons, as ons in Hom glo, van nou af vir God kan lewe.

God het ingegryp in jou sondige lewe, en maak ’n hemels breë verskil in jou lewe deur sy sondelose Seun na die wêreld te stuur om in jóú plek die volle prys vir al jou sonde aan die kruis te betaal. Jesus sterf in jou plek deur die straf van jou sonde ten volle te dra. Maar Hy bly nie in die graf nie – Hy staan ná drie dae op uit die dood. En omdat Hy uit die dood opgestaan het, maak Hy dit vir almal wat in Hom glo moontlik om op te staan uit die dood wat die sonde bring, om die dood te oorwin en vir altyd in die hemel te leef. Want jy is nie net saam met Jesus opgewek nie: Hy maak dit vir jou moontlik om eendag ná jou dood ’n plek in die hemel te hê. ’n Plek wat Hy nou reeds besig is om vir jou voor te berei.

Hemelse Vader, hoe kan ek ooit genoeg dankie sê vir u innige lief de vir my wat my sáám met Jesus lewend gemaak het en vir my ’n plek in die hemel beloof! Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.