Gedagte vir die dag: God het vir jou meer in gedagte

Knysna_Berg_twee_manne_stap_see.jpg

Foto: Melanie Schlenter

Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Lewe naby My en wees opreg! Ek sal my verbond met jou sluit en baie, baie mense uit jou laat voortkom.” (Genesis 17:1-2)

Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. (Matteus 3:8)

Het jy ook al probeer beheer neem van dinge in jou lewe wat jy goed geweet het net God kan laat gebeur? Dit het dalk vir jou gevoel God neem nou heeltemal te lank om jou gebede te verhoor en toe besluit jy Hy het hulp nodig en gryp in. Ek glimlag terwyl ek hier tik, want dit is presies wat ek al gedoen het.

In Genesis lees ons Abram se lewensverhaal. Hy het ook begin twyfel of God sy belofte aan hom om ’n groot nageslag te hê, gaan nakom. Toe besluit hy en sy liewe vrou Sarai om God bietjie te help deur Sarai se slavin Hagar te vra om ʼn kind vir Abram te baar, en is Ismael gebore. Vandag se teksgedeelte speel af dertien jaar na Ismael se geboorte. Abram het hom versoen met die idee dat God se belofte aan hom in Ismael vervul sou word. God het egter iets anders in gedagte gehad. Om ’n verskil in die mensdom te maak, moet ’n nuwe mensheid geskep word en dit moet sonder twyfel erken word as God se ingryping. Die uitstel van die belofte aan Abram was daarop gerig om die onmoontlikheid van ’n gewone bevrugting en geboorte te beklemtoon. Só het God ’n nuwe geloofsgemeenskap geskep.

God word in die teks die Almagtige genoem, ’n vertaling van El-Sjaddai. Dié Godsnaam word meestal gekoppel aan uitsprake oor seën en vrugbaarheid. God wil dus van hier af ’n nuwe pad met die mensdom begin loop. ’n Nuwe era het aangebreek.

God verwag ’n spesifieke lewenswyse van ons en dit het reeds by Abram begin. Daarom gebruik Hy die woorde: “Lewe naby My en wees opreg …” Daarom, vertrou God om die plan wat Hy met jou lewe het uit te voer.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

al ·

Halleluja Prys die Heer. Wanneer mens op jou eie kragte staatmaak, kom dit tot niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.