Gedagte vir die dag: God hou die leisels

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. (Ps 3:6)

Lees Psalm 3

Wanneer hy hierdie psalm skryf, verkeer Dawid in haglike omstandighede: hy moet vlug vir sy lewe, en boonop is die persoon wat hom wil doodmaak, sy eie seun. Hierdie gebeurtenisse val so in die kraal van sy vyande. Dit gaan so moeilik met hom omdat die Here hom nie wil help nie, sê hulle. Oënskynlik lyk dit vir ons ook of die Here nie vir Dawid wil help nie.

Maar Dawid weet van beter. Al gaan dit so sleg, kry hy dit steeds reg om kalm te bly en snags rustig te slaap. In hierdie moeilike omstandighede bid Dawid tot God. Hy glo en weet dat die Here in staat is om hom te help. Veral as hy na die verlede kyk, weet hy dat die Here hom weer sal help soos Hy nog altyd tevore gedoen het.

Jy voel dalk ook soms of die Here nie na jou luister nie; asof Hy talm om te help juis op daardie tye wanneer jy sy hulp die heel nodigste het. Jy mag maar soos Dawid op die Here vertrou en rustig slaap, ook al lyk jou omstandighede negatief. As jy God liefhet, hou Hy die leisels van jou lewe stewig vas. Hy kan jou swaarkry van die oomblik gebruik tot sy verheerliking. Met hierdie wete kan jy snags rustig slaap, want al gebeur wat ook al met jou, die Here is steeds volkome in beheer van jou omstandighede.

Hemelse Vader, baie dankie vir die versekering dat U vir my sal sorg en dat niks met my kan gebeur wat U nie tot u verheerliking kan gebruik nie. Help my om rustig te slaap omdat ek weet dat U in beheer is. Amen

Bron:
‘n Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.