Gedagte vir die dag: God hou jou in die oog

 pad_woud_stiltetyd_pixabay.jp

Foto: pixabay.com

Lees: Psalm 32:8-10

Die HERE sê: “Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal vir jou raad gee, my oog sal op jou wees.” Onfeilbare liefde omring húlle wat op die HERE vertrou. (Psalm 32:8, 10, NLV)

Dit bly vir my ’n wonderlike gedagte dat die Skeppergod wat die hele skepping onderhou dit steeds kan regkry om elkeen van sy skepsels in die oog te hou. Hy weet alles van elkeen van ons af. Hy ken ons sonde en Hy is steeds bereid om ons te leer en ons die pad te wys waarop ons moet loop. Boonop onderneem Hy om die mense wat op Hom vertrou met sy onfeilbare liefde te omring. “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou,” beloof 2 Kronieke 16:9.

As jy sonder kwellings wil leef, behoort jy op jou beurt weer vir Gód in die oog te hou. Wanneer die Hebreërsskrywer oor die wedloop van geloof skryf, beklemtoon hy die feit dat ons in hierdie wedloop nie ons oë vir ’n oomblik van Jesus behoort weg te neem nie: “Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop” (Hebreërs 12:1-2, NLV).

God is slaggereed om jou te help, sy oog is op jou – maak seker dat jy jou oë nooit weer van Jesus sal wegneem nie.

Here, dankie vir die versekering dat U my in die oog hou sodat U kan sien presies wanneer ek U nodig het. Ek wil van nou af op U fokus en nooit weer van U wegkyk nie. Amen.

Bron: Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Charlotte Manuel ·

Amen, wat ‘n wonderlike skrif wat ons bemagtig en leer dat God nie ‘n aannemer van persoon is nie, maar dat Hy elkeen help wat bereid is om Hom ‘n kans te gee, wat bereid is om hul geloof hul vertroue in die Here te sit en Hom in alles te ken. Die oog van God deurkruis die hele aarde want die God van die Wes-Kaap is die God van die Oos-Kaap is die God van die Noord-Kaap, die punt wat ek wil maak is dat die God wat ons dien almal se God is, Die Here is daar vir almal en as ons dit rerig bedoel met Hom is dit Sy begeerte om ons te leer aangaande die pad wat Hy wil hê ons moet loop, Hy wil ons bedien met Sy raad, Hy wil ons onder Sy oog hou, Is dit nie wonderlik om deur die Here God beskerm te word nie en te weet dat ons nie hoef te vrees nie want die God wat ons dien slaap nie sluimer nie maar is wakker om Sy woord te volbring. Die Here seën!!

Rina ·

Ek sal graag bemoedigende gedagtes wil ontvang, het dit so nodig.
Dankie,
Rina

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.