Gedagte vir die dag: God hou jou vas

Foto: jewelsofencouragement.com

Foto: jewelsofencouragement.com

Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing. (Op 3:10)

Lees Openbaring 3:7-13

In die brief aan die gemeente van Filadelfia word gelowiges gewaarsku dat daar vir hulle ’n swaarkrytyd voorlê. Net dié mense wat deur God self ondersteun word, sal staande kan bly tydens hierdie verdrukking. Die gemeente kry egter ook ’n pragtige belofte: omdat hulle volhard het in hulle lyding deur aan God se boodskap en beloftes vas te hou, belowe Hy om hulle ook vas te hou as hulle beproef word.

Om vasgehou te word wanneer jy seerkry, is die heel beste troos. Kyk maar na ’n kleutertjie wat sy knie stukkend val en droewig huil oor die seer. Sodra sy ma hom in haar arms opraap en hom styf vasdruk, is die “eina” sommer gou oor. God se kinders kan swaarkry nie vryspring nie. Tog ervaar Christene hierdie swaarkry anders as ongelowiges. Christene het die versekering dat hulle nooit alleen in hulle swaarkry sal wees nie, om dat God hulle vashou in tye van beproewing.

Jy het God altyd by jou in swaarkrytye, ook al voel dit nie vir jou so nie, ook al beleef jy God as ver en onbetrokke. God sal jou nooit alleen los nie. Hy onder neem om jou vas te hou en te help in jou tyd van beproewing, mits jy belowe om aan sy beloftes vas te hou wanneer dit moeilik gaan. Sien jy kans daarvoor?

Vader, hoe gerusstellend is u belofte dat U my sal vashou in swaarkrytye. Dankie dat ek kan weet dat U my in krisistye nooit alleen sal laat nie. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanno Visagie ·

Die Verdrukking is net beskore vir die loues en ongelowiges wat die eersdaagse Wegraping deur ons Here Jesus Christus sal misloop. Ja kom Here Jesus! Maranata!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.