Gedagte vir die dag: God hou jou vas

Perde-Boekevat-.jpg

Foto: yulika.tumblr.com

Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. (Jes 41:10)

Juis wanneer dit baie sleg met Israel gaan, het God vir hulle ’n gerusstellende boodskap by monde van die profeet Jesaja: Ten spyte van hulle negatiewe omstandighede, ten spyte daarvan dat hulle op die oomblik in ballingskap verkeer, hoef hulle nie langer bang of bekommerd te wees nie omdat Hy steeds by hulle is, om dat hulle Verbondsgod beloof om hulle te versterk, te help en vas te hou.

Van kleins af wil babas graag vasgehou wees. Dit is dan ook ’n instinktiewe reaksie om ’n baba of kleuter op te tel en vas te hou wanneer hy huil. Sodra ’n baba iemand wat hy ken se arms om hom voel, hou die huilery gewoonlik gou op.

Om vasgehou te word is ’n troos teen die wêreld se seer, en nie net in die geval van kinders nie. Wanneer jy hartseer is, is dit gerusstellend om ’n vriendin se arms om jou te voel. Ongelukkig kom daar tye dat ons nie mense by ons het om ons te troos nie. Maar God is altyd by sy kinders, en Hy is die heel beste Trooster. Omdat Hy by jou is, hoef jy nooit eensaam, bang of bekommerd te wees nie. Die Bybel verseker jou dat Hy jou sal vashou in swaarkrytye, dat jy altyd sy arms om jou sal kan voel en dat Hy jou elke dag met sy liefde sal omvou.

Hemelse Vader, dis wonderlik om te weet dat u nabyheid my altyd sal vertroos, dat U my sal vashou en my sal help. Amen

Lees Jesaja 41:8-13

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willie ·

God is groot, met Hom by my is alles moontlik. Dankie Vader vir U nabyheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.