Gedagte vir die dag: God is begaan oor jou

Foto: jewelsofencouragement.com

Foto: jewelsofencouragement.com

Die Here is ’n God wat baie begaan is oor sy volk. Die Here is lankmoedig, maar sy krag is groot. (Nah 1:2-3)

Lees Nahum 1:2-7

In die profeteboek Nahum word verskillende fasette van God uitgelig: Hy is werklik begaan oor sy volk, Hy het hulle baie lief en gee opreg vir hulle om. Die beste verduideliking van die werkwoord wat hier met “begaan” ver taal word, is dat God soos ’n ma is wat gedurig oor haar kinders bekommerd is, wat elke oomblik van die dag vir hulle bid, wat hulle onvoorwaardelik liefhet, ongeag wat hulle doen. Dit is ’n enorme besluit om ’n kind te hê: vir ’n ma beteken dit dat jy vir die res van jou lewe jou hart buite jou gaan laat rondloop.

God is egter nie net begaan oor sy kinders nie, maar Hy is ook ’n God wat Hom wreek op sy vyande. God is altyd toornig oor sonde. Gelukkig is Hy terselfdertyd ’n lankmoedige God. Hy is geduldig met ons en bereid om ons weer en weer te vergewe. Boonop is sy krag groot, en hierdie wonderwerkende krag wil Hy tot jóú beskikking stel wanneer jy in die noute mag kom.

As jy weer in ’n krisissituasie beland, onthou gerus dat jy ’n God aanbid wat werklik vir jou omgee, op dieselfde manier as wat ’n ma vir haar kind omgee. Maar onthou ook dat God nooit sonde duld nie en dat hierdie God ook volkome in staat is om jou te help en by te staan as dit nodig raak.

Hemelse Vader, baie dankie dat U wat só ’n groot God is, oor mý, ’n klein mensekind, begaan is. Dankie dat ek weet dat U werklik vir my omgee en dat U my met u krag sal bystaan as ek in die noute kom. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.