Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. (Jes 41:10)
Lees Jesaja 41:8-16
In Reik na die onsigbare God skryf Philip Yancey dat God nie beloof dat ons altyd gelukkig en sonder probleme sal leef nie, maar dat Hy wel in donker tye by ons, in ons en daar sal wees vir ons.
God se volk het baie keer voor groot probleme te staan gekom, maar Hy was altyd daar om hulle te help en te beskerm en sy krag vir hulle aan te bied. Om daardie rede het hulle feitlik altyd daarin geslaag om hulle vyande die loef af te steek.
Dit is baie onwaarskynlik dat jy vanjaar ’n probleemvrye jaar sal belewe; meer nog, jy kan feitlik daarop reken dat daar probleme en krisisse oor jou pad sal kom, maar te midde van daardie krisisse hoef jy nooit bang of bekommerd te wees nie. Jy het mos die belofte dat God jou nooit in die steek sal laat nie; dat Hy elke dag van die nuwe jaar by jou sal wees om jou te lei en te help; dat Hy jou sal versterk wanneer jy ekstra krag nodig het; dat Hy jou met sy eie hand sal vashou en jou sal help en bewaar. Om hierdie rede kan jy die onbekende nuwe jaar met groot vertroue binnegaan. As God by jou is, kan niks werklik teen jou wees nie.
Hemelse Vader, dis wonderlik dat U beloof het om by my te wees, om my sterk te maak en my te help, om my vas te hou en my te red. Ek kom maak nou aanspraak op daardie belofte. Amen
Ek glo dit met my hele hart, siel en verstand.
Dankie vir al die dagstukkies, beteken baie vir my!!!