Gedagte vir die dag: God is by jou

Boekevat - Bettysbaai - ABritsMoenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. (Jes 41:10)

Lees Jesaja 41:8-16

In Reik na die onsigbare God skryf Philip Yancey dat God nie beloof dat ons altyd gelukkig en sonder probleme sal leef nie, maar dat Hy wel in donker tye by ons, in ons en daar sal wees vir ons.

God se volk het baie keer voor groot probleme te staan gekom, maar Hy was altyd daar om hulle te help en te beskerm en sy krag vir hulle aan te bied. Om daardie rede het hulle feitlik altyd daarin geslaag om hulle vyande die loef af te steek.

Dit is baie onwaarskynlik dat jy vanjaar ’n probleemvrye jaar sal belewe; meer nog, jy kan feitlik daarop reken dat daar probleme en krisisse oor jou pad sal kom, maar te midde van daardie krisisse hoef jy nooit bang of bekommerd te wees nie. Jy het mos die belofte dat God jou nooit in die steek sal laat nie; dat Hy elke dag van die nuwe jaar by jou sal wees om jou te lei en te help; dat Hy jou sal versterk wanneer jy ekstra krag nodig het; dat Hy jou met sy eie hand sal vashou en jou sal help en bewaar. Om hierdie rede kan jy die onbekende nuwe jaar met groot vertroue binnegaan. As God by jou is, kan niks werklik teen jou wees nie.

Hemelse Vader, dis wonderlik dat U beloof het om by my te wees, om my sterk te maak en my te help, om my vas te hou en my te red. Ek kom maak nou aanspraak op daardie belofte. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.