Gedagte vir die dag: God is by jou in jou swaarkry

 Olyfbome_Assisi.jpg

Olyfbome (foto: Annelize Brits)

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie … nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. (Habakuk 3:17-18)

Ons almal weet dat Christenskap nie noodwendig ’n voorspoedige lewe sonder enige hartseer waarborg nie. Nee, dit gaan beslis nie altyd net goed met ons nie. Nêrens in die Bybel belowe God dat kinders van die Here nooit seer seisoene sal beleef nie, siek word of ’n geliefde verloor nie. Selfs Jesus het gely – Hy is verwerp en gekruisig en sy dissipels saam met Hom – ons lees Johannes se kop is afgekap. Tog ly kinders van die Here anders; ons ly met ’n seker verwagting dat God by ons in ons lyding is en omdat Jesus lyding ken, droog Hy self ons trane af wanneer ons hartseer is. God belowe om vir ons uitkoms te bied. Hy het ons in die verlede deur seer seisoene gedra en sal dit weer vandag en in die toekoms doen.

Die profeet Habakuk maak hier ’n ongekwalifiseerde vertrouensuitspraak in God. Die boek eindig op ’n pragtige hoogtepunt, wat sekerlik een van die mooiste tekste in die hele Bybel is. Dit beklemtoon die feit dat al gaan dit nie goed nie, bly ons op God vertrou. Die herinnering aan die magtige verlossingsdade van God in die verlede, bring die profeet in beroering. Hy besef hy moet in gehoorsame afwagting geduldig wees totdat God ingryp om die goddelose te vernietig. Hy ervaar die aanvalle van die goddelose, maar sien met vertroue uit na verlossing. Ondanks sy huidige negatiewe omstandighede sal hy jubel en juig in God, want dit is God wat hom krag gee.

Dalk gaan jy nou deur ’n moeilike tyd, maar onthou God is in beheer, Hy is by jou en maak ’n gebroke hart heel. Sy teenwoordigheid en liefde sal jou elke minuut dra en omring – gryp Hom met oorgawe aan. Hy sal vir jou uitkoms gee en as Christen kan jy uitsien na ’n ewige lewe sonder trane of hartseer of dood saam met ons Here en God.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ruth ·

gister en vandag is vir my moeilik,maar ek skep nuwe moed vir die boodskap vanoggend
net om te weet ons Vader is in beheer..AMEN

Ilise ·

Dankie Koning Jesus, dat U ons dra en ons lei soos net U alleen kan. Dankie vir U genade so ombeskryflik groot. Ek vertrou U vandag waardeur ek moet gaan en glo dat U heeltyd by my sal wees. Dankie vir die Woord. Dit beteken so baie vir baie van ons.

moekie ·

pragtige woorde GOD DRA ONS DEUR BAIE DINGE ONS WORD MOEDELOOS,MAAR SY “AMASING GRACE” is al wat ons sal deur-dra.wees gelowig en vol moed.
DANKIE JESUS.

Lourens Erasmus Coetzer ·

Dis moeilik veral as iemand na 16 jaar n mens los.

JJ ·

Baie dankie vir die pragtige boodskap. Dit gee ‘n mens moed vir alles wat ‘n mens moet aanpak en deurmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.