Gedagte vir die dag: God is daar wanneer jy swaarkry

sonsopkoms-man-wat-bid

Foto: living365withjesus.wordpress.com

Lees: Psalm 13

Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het. (Psalm 13:2, 6)

Wanneer Dawid hierdie Psalm skryf, dink hy dat God van hom vergeet het. Maar presies die teenoorgestelde is waar. Wanneer Dawid aan God se troue liefde vir hom vashou, ontdek hy dat God die hele tyd by hom was. God is daar waar jy swaarkry, Hy sal jou nooit vergeet nie. Hy is bewus van jou pyn en beloof om ’n einde daaraan te maak.

Die Ortodokse Jode het ’n gesegde gehad: “Waar die Messias is, is daar geen pyn nie.” Ná die koms van Jesus, kan hierdie gesegde verander word na “Waar pyn is, daar ís die Messias,” skryf Philip Yancey in sy boek What Good is God? Terwyl Jesus op aarde was, het Hy almal wat siek, gestremd, honger en hartseer was raakgesien, na hulle uitgereik en hulle gehelp. Hy het mense wat swaarkry “innig jammer” gekry, lees ons in die Bybel. Wanneer jy swaarkry, wil God jou ook met sy liefde omvou. As jy stukkend is, wil Hy jou heelmaak. Maar Hy vra van jou om deer nis te hê met mense wat swaarkry; om daar te wees vir sy kinders wat in nood verkeer.

Here, ek loof U dat U steeds daar is waar ek swaarkry, dat U gereed staan om my te help, ook in daardie tye wanneer U vir my ver voel. Gee vir my die deernis van Jesus sodat ek op my beurt mense wat lyding ervaar met my liefde kan omvou. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Denise ·

Jesus is beslis daar vir ons in tye van nood. Hy is Groot en Almagtig. Moet nooit moed verloor nie. Hy is by jou. Hou net vas aan Hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.