Gedagte vir die dag: God is daar

Knysna_Berg_twee_manne_stap_see.jpg

Foto: Melanie Schlenter

Lees: Jesaja 43:1-4

Wanneer jy deur diep water van moeilikheid gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur van verdrukking stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie. (Jesaja 43:2, NLV)

Die Bybel sê nêrens dat God se kinders spanningloos en probleemloos deur die lewe sal gaan nie. Die teksvers hierbo neem dit as ’n gegewe dat mense stres op aarde sál ervaar. God beloof egter dat wanneer jy deur diep waters van moeilikheid gaan, Hy by jou sal wees en wanneer jy deur die vuur van verdrukking moet stap, Hy jou sal beskerm. Jy gáán dus op aarde stres ervaar – daarop kan jy reken. Máár wanneer dit gebeur, het jy die versekering dat God by jou sal wees; dat Hy jou teen gevare sal beskerm en jou nooit alleen sal laat nie. Die belofte dat God by jou sal wees, het die manier om jou spanning te ontlont, om jou weer rustig in sy teenwoordigheid te maak.

As jy God by jou het, het jy niks anders nodig nie. Hy is genoegsaam: Hy hou jou vas en beskerm jou in tye van gevaar, Hy ondersteun jou te alle tye met sy liefde. Vertrou Hom dus om jou deur die ergste probleemsituasies te dra. Harold Sala skryf in sy boek Verwerk jou spanning, voorkom uitbranding, oorkom vrees, dat die belofte van sy teenwoordigheid in tye van stres vir jou ’n anker sal word wat jou die krag sal gee om die realiteite van die lewe in die oë te kyk.

Here God, ek loof U dat U altyd by my is – ook wanneer ek in spanningsvolle en gevaarlike situasies verkeer. Dankie vir die belofte dat U daar sal wees wanneer ek deur die water van moeilikheid en die vuur van verdrukking moet gaan. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Louw ·

Dankie Heer vir U genade wat elke oggend nuut is en dat U in beheer is van ALLES

Elbie ·

Here hou asb my hand styf deur die moeillike tyd waarin ek my bevind. Al mag dit voel of ek alleen staan, ek WEET ek VOEL U nabyheid! Vat asb my vrees weg o, Heer op U tyd! Amen

Roela ·

Here ek voel so bang en alleen al weet ek U is daar . Here hou my asb vas deur die storm en beskerm my ek het U lief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.