Gedagte vir die dag: God is die bron van vreugde

boekevat-blydskap-spring-van-vreugde

Foto: blisshabits.com

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Rom 15:13)

Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. (Ps 37:4)

“Vreugde” en “blydskap” is twee Bybelwoorde wat ons nie altyd so goed verstaan nie. Miskien heg ons aan dié twee woorde te veel aardse waarde. Om bly te wees oor aardse geluk. Wat natuurlik nie verkeerd is nie. ’n Mens mag bly wees oor die dinge wat God vir jou hier op aarde gee. Trouens, die Bybel vertel keer op keer van die wonderlike gawes wat ons op aarde kan geniet. Maar die vreugde en blydskap waarvan die Bybel praat, is iets anders. Dit het te make met ’n innerlike vrede en genoegdoening wat nie afhanklik is van aardse dinge nie.

In Jesaja 9 word iets van die hemelse vreugde vir ons verwoord. Dit oortref die vreugde oor die oorvloed van aardse geluk. Wyn en koring en olywe was die dinge wat vir mense lewensvervulling beteken het. Maar God gee iets wat veel meer lewensvervullend is. Wat kan dit tog wees? Watter vreugde kan groter wees as oestydvreugde? Oestydvreugde het te make met materiële winste. Die vreugde wat die Here gee, het te make met ’n innerlike, ewigdurende wins. Dit gaan oor die wins van die ewige lewe en van God wat elke oomblik by jou is.

Die vreugde wat die Here vir ons gee, is ’n vreugde ten spyte van wat die uiterlike omstandighede ook al is. Dit is die soort vreugde wat vir Paulus en Silas in ’n stinkende tronksel lofliedere tot eer van God laat sing het.

Wanneer ’n mens jou vreugde in die Here vind, word jy gekoppel aan ’n onuitputlike Bron van vreugde.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.