Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Romeine 15:13)
Hoop ontspring soos ’n fontein in God se hart en vloei uit Hom soos strome van lewende water. Hy wil die leë holtes van jou hart laat oorloop met sy hoop en jou verfris met die krag van die Heilige Gees.
Hoop is nie ’n verlange wat op niks uitloop nie. Dit is ’n positiewe projeksie van ’n toekoms wat jy vir jouself visualiseer en wat, in die geval van Jesus se beloftes, eg is. Hy het lewend uit die graf opgestaan en voor die oë van sy dissipels opgevaar hemel toe ‘vanwaar Hy sal kom om te oordeel, die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.’
‘Hulle sal die Seun van die mens op die wolke sien kom met groot krag en majesteit,’ het Hy self sy wederkoms voorspel. ‘Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af ’ (Matt 24:31).
In sy profetiese boek, Openbaring, beskryf Johannes die bruilof van die Lam (Jesus) en sy Bruid (die kerk). Hy het die geluid van ’n groot menigte gehoor, iets soos die gedruis van ’n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep: ‘Prys die Here!’ (lees Openbaring 19:6).
Elke wedergebore Christen sien uit na hierdie dag. Dis vir hierdie dag dat ons liefdevolle God en Vader ons van die Bose bewaar. Hoe kan hoop dan soos onkruid tussen die koring tier? Hoop is die koring. Hoe kan hoop soos krummels afgemeet word as hoop die brood self is?
Here, God van liefde, uit U en deur U en tot U is alle dinge. U versterk ons geloof. U gee ons nuwe hoop, U leer ons wat liefde is.
Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media
Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital