Gedagte vir die dag: God is getrou

melkweg_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan … So baie sal jou nageslag wees.” (Genesis 15:5)

 Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. Die Skrif het vooruit geweet … (Galasiërs 3:7-8)

Ná die soveelste miskraam wat ek gehad het, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat nog ’n baba my nie beskore was nie. My hart was gebreek en ek het na ’n lewetjie gehunker wat in my binneste groei. Ek het God dan hiervoor vertrou, het ek gedink toe die dokter sag aankondig: “Jammer Liesel, daar is nie meer ’n hartkloppie nie.” Die volgende dag het alle twyfel my oorval en ek het God stil kwalik geneem vir my verlies. ’n Jaar of wat na hierdie seer is my seun, klein Siebert, gebore en ek loof God vir buitensporige seën.

Om te bly glo in iets waarvoor jy al jare bid terwyl die tyd uitloop, raak ’n onhoudbare situasie vir enige gelowige. ’n Mens se geloof begin later wipplank ry en jy worstel gedurig met twyfel. Soms gebeur dit selfs dat jy allerlei pogings aanwend om sake self te laat verwesenlik.

Gelukkig ken God ons swakhede en help sy Gees ons om op die geloofspad te bly. Ons as gelowiges kry hoop in mismoedige tye wanneer ons na Bybelse figure soos Abram se lewe kyk. Abram was nou nie juis ’n onkreukbare geloofsheld nie, maar ’n twyfelende mens wat die moeilike geloofspad net soos ons geloop het.

Die wonder is dat God hom nooit laat los het nie. Selfs al het hy getwyfel, het God vir hom moed en hoop gegee. Ons dink maklik dat God ons twyfel teen ons hou. Sy begrip van ons situasies is egter beter en sy empatie met ons onsekerheid dieper as wat ons kan dink. Hy veroordeel nie ons twyfel nie, maar ondersteun ons. Só het God vir Abram, deur vir hom die sterrehemel te wys, ’n visie en hoop gegee en bevestig dat Hy die Skeppergod is wat die mag in sy hande het. God was getrou aan die belofte wat Hy aan Abram gemaak het. Iemand het eenkeer gesê:

“Geloof is nie om te weet wat die toekoms inhou nie, maar wel Wie die toekoms hou.”

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Isabel ·

So vir my vandag! Het al begin moed opgee! Dan stuur God iemand of n vers op jou pad..om weer vas te hou! Dankie Liezel..

Loretta ·

Haleluja , Amen. Dis waar my God ons vertrou op U my Hemelse Vader,ek glo U sal ons verder ly met die Hemelse Wysheid, Amen!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.