Gedagte vir die dag: God is goed!

mense_vrolik_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 22:25-32

Die nageslag sal Hom dien, en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag (Psalm 22:31)

Hoe sal ons kinders weet van die goeie God? En hul kinders se kinders? Eenvoudig, sal jy sê: Hulle sal dit by ons hoor. Dit is tog logies: Die getuienis aan ons nageslag oor God se goedheid begin by ons.

Eintlik is dit nóg eenvoudiger, nóg logieser, sê dié psalmdigter: Die verhale oor God se goedheid begin … by God se goedheid. By Hom wat hulpeloses se nood nie geringskat nie, wat hul hulpgeroep hoor. Hy wat die armes voed.

Dit laat die ontvangers van al die goedheid geen keuse nie – hulle moet daaroor praat. As dié loflied boonop “in die volle vergadering” (v. 26) gesing kan word, des te beter. Al daardie beloftes wat destyds in die diepste nood gemaak is, die “Here as U my help, sal ek van nou af …”-beloftes, sal voor almal nagekom word. Hulle sal dit sien en beleef en hulle sal huis toe gaan en vir al wat leef en beef daarvan vertel.

Só sal die boodskap versprei, en gelowiges en ongelowiges en arm en ryk en ál die kinders sal dit hoor: God is goed! Uiteindelik is dit die enigste erflating wat werklik saak maak, wat teen mot en roes en inbrekers en inflasie en markskommeling en magsug en die beheptheid met eie eer bestand is: Ons woorde wat aan ons dade gelyk is. Wat net een boodskap dra: Kyk hoe goed is God! Kyk net wat het Hy gedoen!

Ek bid vir my kinders, Here. En vir die boodskap wat ek aan hulle oordra. Leer my om my woorde te tel, en rig my dade tot u eer en tot hul heil.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lena Jonk ·

Dis die grootste fout vandag is die meeste ouers leer hulle kinders nie meer van God nie, word daar nog saam met jou kinders huis Godsdiens gehou. Ek kan die Vader nie genoeg dankie se vir die Genade vir ons, ons kinders en kleinkinders nie. Almal van hulle hou vas aan Jesus ons kleinkinders baie gelowige jongmense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.