Gedagte vir die dag: God is heilig

landskap_water_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid. (Jesaja 6:3)

Jesaja vertel verder: “Terwyl ek in die tempel gebid en na die Leviete-kore geluister het, met die geur van wierook oraloor, is ek opgeneem in die hemel. God was op die troon. Die soom van sy kleed het die tempel gevul. By die troon het ses serafs gestaan om God te dien.” Jesaja 6 is die enigste plek in die Bybel waar die woord seraf – letterlik “brandende, vurige wese” – gebruik word. Elkeen het ses vlerke gehad. Met twee het hulle hul gesigte bedek, uit eerbied. Twee vlerke het die voete bedek, uit nederigheid. En twee vlerke was gereed om te vlieg, brandend om gestuur te word.

“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid,” het hulle uitgeroep. Die deure het gerammel. Die tempel was vol rook. God, moes Jesaja besef, is nie net magtig en teenwoordig nie, Hy is heilig.

Ons kan ons vereenselwig met Jesaja se uitroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.” Dan kom die groot verrassing. Een van die serafs het sy lippe aangeraak met ’n gloeiende kool van die altaar. Sy oortredinge is vergewe. Sy sonde is versoen.

Sou die profeet ooit kon droom hoe sy ervaring uiteindelik die hele wêreld se ervaring sou word? Ons weet waarvan Jesaja praat: Jesus het sy lewe op die altaar geplaas. Hy het die groot soenoffer vir ons gebring. Met brandende kole wat van die altaar van Golgota aangedra word, word ook ons sonde vergewe en ons lippe gereinig.

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yvonne ·

My lof , eer en dank aan die Heer van ewigheid tot ewigheid…Amen

Jan Seerot ·

Hier waar ek nòù is, is baie naby aan klaar met my.
Here my God, red U my.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.