Gedagte vir die dag: God is in beheer

Vrou_strand_stiltetyd_lees-Bybel_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Daar is ’n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. (1 Korintiërs 12:4–6)

Geesvervulde werkers is gehoorsaam aan die Here van wie hul opdrag­te kom en wat hulle vir ’n spesifieke taak uitgesonder en toegerus het. Dit is veral in gemeentes nodig dat gemeentelede hul gawes ontdek en die kans kry om daarmee te woeker tot voordeel van die kerk en tot eer van die Here. Paulus noem ’n verskeidenheid gawes. Hulle verskil van mekaar, maar gee vir elkeen ’n unieke doel en plek in die gemeente, om mekaar tot eer van God met liefde te bedien. Die Gees van God staan ons hierin by. Hierdie Gees is dieselfde Gees wat ook in Jesus leef, dieselfde krag waarmee Jesus wonders gedoen het. ‘En hoe geweldig groot is sy krag wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek het en Hom aan sy regterhand laat sit het’ (Ef 1:19–20).

Ons kan maar net uitroep: ‘Here, hier is ek!’

Moenie twyfel nie, die Here God vervul jou met sy Gees: ‘Die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here’ (Jes 11:2).

Jy het nie nodig om op hulpmiddels soos ekstra kursusse, meditasie, lig­gaamsoefeninge en energiedrankies staat te maak nie. Begin en eindig jou dag met gebed. Doen jou werk getrou, neem deel aan kursusse en seminare wat deur jou werkgewer gereël word, maar weet waar jou krag vandaan kom.

Liefdevolle Hemelvader, dankie dat U ons verseker dat U in beheer is en ons wat na U opsien, met die krag van u Gees vervul om ons werk te kan doen.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

louisa ·

Dankie Onse Vader dat U in beheer is. Daar waar ons moeg word. Te U ons op en dra ons verder. U het aan die kruis gesterf vir ons sondes. Dankie Onse Vader dat U ons Pappa is. Geseende dag vir almal. Louisa

Nadia ·

Dankie Here vir die wete dat U met ons is, selfs wanneer ons ons beste lewer in ons werk en ons werkgewer ons nie waardeer nie!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.