Gedagte vir die dag: God is nie buierig nie

baba_hand_pappa_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as  versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem. (1 Johannes 4:10)

God is nie buierig of kwaad nie. Dis nie asof Hy vandag baie van mense hou, net om môre te besluit Hy het ’n groot fout gemaak en dan is Hy weer smoorkwaad vir almal nie. As die Bybel oor God se wese praat, hoor ons ’n deurlopende lyn wat in die Nuwe Testament uitkristalliseer in die woorde: “God is liefde!” Nee, nie iets soos “God is teleurgesteld en omgekrap” nie. Hy weerstaan sulke emosies, want sy wese is liefde. Hy stel sy oordeel uit tot die allerlaaste. Sy hart klop vuurwarm met liefde vir ons. Van nog altyd af is Hy die genadige God. As sy skepping verniel word, ruk dit sy hart. As mense in die donkerte van hulle eie droogmakery en gemors verdwaal, gebeur dieselfde. Dan gaan soek die Goeie Herder hulle op. Hy hou nooit op om dit te doen nie.

Nou is dit weer die Here se seisoen van uitstel en afstel. In hierdie Kersfeestyd gaan dit oor God se sigbare liefde vir ons. Daarom moet ons weer die engele se lied hoor tydens die aankoms van Jesus in Betlehem. Onthou jy nog hulle woorde: “Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense vir wie Hy lief is”? Hierdie vredeslied vertel in ’n paar akkoorde net mooi alles van Jesus se sending op aarde. Dit sê God se Vredeskind het opgedaag hier tussen ons. Elkeen wat hierdie lied hoor en inval by die herders en by almal wat dit vandag nog agterna sing, ervaar iets van God se liefde. Te midde van die seer en swaar van ’n chaotiese wêreld beleef hulle die Vredeskind van die hemel se nabyheid. Doen dit saam met hulle!

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Aucamp ·

Vader is nie ‘n mens met sulke emosies nie. Ek bid dat mense dit verstaan. Vader het ons lief. Vader wil dat dit met ons goed gaan, maar ons mors met Sy liefde. Om die waarheid te sê, ons mors alles meeste van die tyd op.
Genadiglik is Hy Vader. “Kom my kind, kom sit hier by My en laat ons praat.”
Ons Vader maak alles reg. Hy kan. Hy wil. Hy sal.
Ek skaam my nooit vir my Vader nie.
Ek aanbid die God van alle tye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.