Gedagte vir die dag: God is ons Trooster

reënboog.jpg

Foto: credomag.com

Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. (Matt 5:4)

Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid. (Joh 14:16, 1953-vertaling)

Hartseer mense het troos nodig. Treurende mense soek nie preke nie, maar iemand wat vashou en verstaan en omgee. Die bemoedigende teksverse kan kom sodra ek eers vasgehou word. Jesus het in sy saligsprekinge spesiaal gedink aan mense wat treur. Hulle sal vertroos word, want God hou nie daarvan as sy kinders huil nie. En soos ’n aardse pa of ma die huilende kleuter optel en vasdruk, wil God dit graag met sy treurende kinders doen.

Dit is interessant dat Jesus nie die treurendes bejammer nie, maar hulle eerder gelukkig of geseënd noem. Die rede vir die geluk lê in die troos wat hulle gaan ontvang. Wanneer God jou troos, is daar altyd hoop en is jou toekoms nooit troosteloos nie. Ja, vir seker sal jy hartseer wees oor byvoorbeeld die verlies van ’n dierbare of ’n onherstelbare verhoudingsbreuk. Maar jy sal verder kyk as vandag se pynervaring, jy sal God se ondersteunende krag ervaar en weet dat daar met God by jou ’n toekoms is. God se troos is genesend. Ons leef in ’n stukkende wêreld en ons word self dikwels blootgestel aan die gevolge van die breekspul. Maar vir God se kinders is die seerkry nie die einde van die wêreld nie. Ons word eerder deur pyn gelouter om vir ander wat swaarkry tot seën te wees. En wat maak ’n mens gelukkiger as om vir iemand anders tot troos te wees?

Jesus het belowe om te bid dat God vir ons ’n Trooster (Voorspraak in die 1983-vertaling) sal stuur. En dié Trooster is die Heilige Gees wat by ons inwoon en ons met krag versterk.

Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. (Ps 34:19)

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.