Gedagte vir die dag: God is orals

Namib_woestyn_stiltetyd.jpg

Foto: Susan Lombaard

God, die Heilige, beweeg oor die woestyne van Edom en van die Paranberg af. Sy groot heerlikheid vul die hemelruim. Die aarde is vol van sy lof! (Habakuk 3:3)

Die Here se hemelse lig het gedurende die afgelope jaar orals baie helder geskyn. Sy vreugdevure het hoog gebrand. In kantore, huise, kerke, plakkerskampe, tronke, hospitale, kinderhuise en op geweldgeteisterde plekke was die Here se voetspore sigbaar. Derduisende ouers se gebede vir hulle kinders is verhoor. Bang mense se bevreesde harte het aan die Here se voete tot bedaring gekom. Werkloses het kos gekry. Siekes is opgerig. Swakkes is versterk. Vele van die Here se aardse helde is ook gedurende die afgelope jaar veilig oorgetel na sy ewige hemelse fees saal. Nóg dood nóg lewe kon die Here se mense vanjaar van Hom skei. Sy goedheid het ons almal se lewens oorspoel.

Het jy deur die loop van hierdie jaar op onverwagse oomblikke die sonstrale van hemelse genade in jou eie lewe en in die lewens van mense rondom jou ervaar? Dalk het jy ongeskonde uit een of ander gevaarlike misdaadsituasie gekom. Of toe jy uit die bloute ’n werk gekry het. Of toe ’n ernstige siekte hokgeslaan is in jou lewe. Dan het jy ook die Here se lig helder sien skyn. Dan was dit ’n goeie jaar, maak nie saak wie wat sê nie. Vertrou God dan om volgende jaar ook te omraam met sy goedheid. Hy sal jou vrees verdryf. Hy sal na jou omsien, want Hy is die Goeie Herder wat al sy skape op die naam ken. Volg Hom. Dien Hom met oorgawe. Dan sal jou vreug de geen perke ken nie – daardie vreugde wat nie in woorde uitgedruk kan word nie.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.