Gedagte vir die dag: God is vrygewig met Homself

hou-hande_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle. (Matteus 18:20)

Daar is iets buitengewoons aan ’n groot skare. Dink maar aan ’n menigte rugbykykers, of gillende ondersteuners by ’n groot musiekkonsert. Die gedruis van duisende stemme, die beweging van ’n horde lywe, die klank wat mense maak wanneer hulle saam juig of saam ’n groot sug uiter. Dit alles is besonder indrukwekkend. Ja-nee, ’n massa mense skep ’n atmosfeer wat ’n kleiner groep net nie kan bybring nie.

’n Mens sou dink dat God in al sy glorie sou kies om van Homself by dié soort indrukwekkende geleenthede te gee. Daar waar grootsheid weerklink. Hy is dan die almagtige God van die heelal …

Maar gelukkig dink God anders oor waar en hoe Hy van Homself gee. Jesus maak dit duidelik wanneer Hy sê: “Waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle” (Matt 18:20).

God is nie suinig met sy teenwoordigheid nie. Daar hoef nie ’n groot skare gelowiges bymekaar te kom voordat Hy Hom verwerdig om daar op te daag nie. Ons hoef ook nie ’n spesiale geleentheid te reël of ’n groot klomp baie belangrike persone uit te nooi om Hom daar te kry nie. God gee van Homself aan “gewone” gelowiges, mense wat in Jesus glo.

Hoe wonderlik is dit dat ons eenvoudige samekoms goed genoeg vir God se teenwoordigheid is. Al bring ons net ons gebrokenheid daarheen, en al stotter ons ’n eenvoudige gebed uit of sit bloot daar en twyfel terwyl iemand anders hartstogtelik bid.

Ook dán sal Jesus se belofte bly: Ek is hier tussen julle. Ek is gereed om jul gebede aan te hoor en dit met al die liefde in my hart te verhoor.

Miskien is dit juis ons probleem: Ons sukkel om te glo dat God in sy volheid teenwoordig is wanneer net twee of drie bymekaar is. Dit is hier waar dankbaarheid ons help om tóg te glo.

Wanneer ons dan weer saam is, kan ons begin dankie sê dat God so vrygewig met Homself is. Ons kan Hom dank vir sy teenwoordigheid wanneer ons sy Naam aanroep. Ja, ook ons wat maar min en onbelangrik is, en met ’n kléin geloof.

Dié heerlike belofte bly die waarheid: Jesus is daar waar twee of meer gelowiges met Hom praat. Hy gee van Homself in daardie oomblikke wanneer jy en jou kinders saam is, of jy en ’n vriendin, waar jy en kollegas hande vat en bid en wanneer jy en jou man ’n vinnige gebedjie opsê voordat julle aan die slaap raak.

Hiermee saam gee Hy ook sy genade, liefde en hoop.

Dankie, Here, vir hierdie soort vrygewigheid. Ons beleef dit, en ons is baie dankbaar daaroor.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.