Gedagte vir die dag: God kan nie jok nie

ligtoring_4_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die Ewige van Israel lieg nie en sal ook nie sy plan verander nie, want Hy is nie ’n mens wat van gedagte verander nie! (1 Samuel 15:29)

Leuens vernietig vertroue, verbreek verhoudings, verwoes integriteit en vul ons met duisternis. Dit bind ons ook vas aan die duiwel, die vader van alle leuens: “Hy is nie in die waarheid nie omdat die waarheid nie in hom is nie. Wanneer hy ook al leuens verkoop, praat hy volgens sy innerlike oortuiging omdat hy ’n leuenaar en ook die vader daarvan is” (Joh. 8:44). Maar God is die God van waarheid. Hy sal nooit jok nie.

In 1 Samuel 15 lees ons van die verpletterende gevolge van ’n leuen wat koning Saul vertel het. God het vir Saul gesê hy moet die vyand volkome uitwis, maar Saul het die beste van die buit vir homself gehou en toe daaroor gejok. Saul het gedoen wat reg was in sy eie oë, en gevolglik het God sy teenwoordigheid aan Saul onttrek en Saul se koninkryk het uitmekaar begin val.

In hierdie konteks staan die belofte van 1 Samuel 15:29 dat God aan sy woord getrou is. Die boek Numeri bevestig dit: “God is nie ’n mens dat Hy sal lieg nie. Hy is nie ’n mens wat ‘ekskuus’ sal sê nie. Het Hy al ooit iets gesê wat Hy nie gedoen het nie? Het Hy iets belowe wat Hy nie nagekom het nie?” (23:19). Waarheid is deel van die karakter van God. Elke woord wat Hy sê, elke belofte wat Hy maak, sal as waar bewys word. Wees daarom verseker dat God se beloftes onherroepbaar is en nie omgekeer kan word nie. Sy beloftes is ons skild van beskerming wanneer ons lewe moeilik raak.

Hierdie waarheid gee aan hulle die vooruitsig op die ewige lewe wat God aan hulle beloof het nog voor die wêreld geskep is – en Hy kan nie lieg nie. – Titus 1:2

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.