Gedagte vir die dag: God kan storms stil maak  

see_storm.jpg

Foto: thefamouspix.com

Skielik het daar ’n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap. Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!” Hy sê vir hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?” Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword. (Matt 8:24-26)

Wanneer jy van ’n storm hoor, dink jy dadelik aan verwoesting. Hoe dikwels word daar nie berig van orkane wat huise platvee, landerye en gesaaides verwoes nie. ’n Storm is angswekkend en lewensbedreigend. En dis nie mensgemaak nie. Dis ’n natuurverskynsel heeltemal buite die mens se beheer. In die Ou Testament lees ons op verskeie plekke dat God Homself in ’n stormwind openbaar. Dit is ’n manier om uitdrukking te gee aan God se geweldige mag, sy onkeerbare krag. Wanneer God op dié wyse sy verskyning maak, kan ’n mens maar net in diepe ontsag voor Hom buig, sy magtige heerlikheid erken.

Storms maak ons bang. Soos wat die dissipels vreesbevange geraak het toe daar op die see ’n storm uitgebreek het en die golwe oor die boot se rand geslaan het. Hulle lewens was in gevaar. En Jesus het geslaap. Dis tog goed dat hulle Hom gaan wakker maak het. Hulle het geweet dat net Hy hulle kon red. En dis toe wat Hy inderdaad doen. Met hierdie daad bewys Jesus God se mag oor die natuur. Die Skepper is volkome in beheer van sy skepping. Hy kan storms stil maak.

Maar daar is ander storms wat dikwels ons lewens bedreig. Daar kom omstandighede oor ons pad wat angswekkend is. Dit storm op ons af. Dit stel ons lewens in gevaar. God kan ook daardie storms stil maak. Vertel Hom daarvan. Hy slaap nie. Hy luister.

Vertrou die Here met die storms in jou lewe.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

esme ·

Dankie vir die gedagte van die dag ons stel ons vertroue op God

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.