Maar die Here sê vir Samuel: “Moenie volgens voorkoms of grootte of liggaamsbou oordeel nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here neem nie besluite soos mense nie! Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die Here kyk na die binnekant.”(1 Samuel 16:7)
Om regtig gesien en geken te word is wonderlik, maar ook vreesaanjaend. Aan die een kant wil ons so graag hê mense moet vir ons lief wees vir wie ons is. Wanneer iemand ons volkome gestroop sien en ons nogtans aanvaar – dit is ’n wonderlike geskenk. Wanneer iemand ons op ons slegste sien en ons steeds liefhet – dít is onvoorwaardelike liefde.
Tog is die lewe baie makliker wanneer ons so ’n bietjie kan wegsteek. Ons hou daarvan om die heel slegste dele vir onsself te hou en ons troetelsondes geheim te hou. As iemand ons sien soos ons werklik is, sal dit ons dwing om daarna te streef om beter te wees, en ons wil nie altyd hierdie uitdaging aanvaar nie.
God sien ons diepste wese – Hy kyk verby alles wat ons wegsteek, selfs dieper as wat ons kan sien – en tog is Hy steeds lief vir ons. Hy kyk tot in ons hart en sien al die sondigheid daar en Hy sê: “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik” (Matt. 11:28). Sagkens skil Hy elke laag af as ons Hom toelaat en Hy help ons om dié mense te word wat Hy ons geskep het om te wees. Hy herstel ons en dra ons dan enduit, selfs wanneer ons wegdeins of struikel. Wat ’n gawe dat God ons sien en ons harte ken, want dit stel ons in staat om volkome en onvoorwaardelik liefgehê te word.
Here, U deursoek my en ken my. – Psalm 139:1