Gedagte vir die dag: God ken jou omstandighede

Wind_windpomp_wolke3_ReintDykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem. (Eks 2:23-25)

Lees Eksodus 2:23-25

Omdat die Israeliete so swaargekry het, het hulle by God om hulp aangeklop, en God hoor hulle gekerm. Hy sien hulle nood raak en neem dit ter harte. Al kon hulle Hom nie sien of ervaar in hulle haglike omstandighede nie, was Hy steeds by hulle, slaggereed om te help en hulle omstandighede te verander.

Wanneer omstandighede teen jou draai, voel dit baie maal vir jou asof God van jou vergeet het, asof Hy nie omgee wat van jou word nie. Bybelfigure soos Dawid, Job en Jeremia het almal by tye God se liefde vir hulle bevraagteken, en tog het almal van hulle op die ou end ontdek dat God daar was vir hulle; dat Hy hulle uit eindelik gered het.

In jou diepste lewensnood is die Here ook by jou, ken Hy jou omstandighede en is Hy reeds besig om vir jou uitkoms te bewerk. Hy is volkome in staat om ook die mees onverstaanbare dinge in jou lewe te gebruik om sy meesterplan vir jou lewe te volvoer. Onverstaanbare dinge is dikwels ’n baie belangrike deel van God se plan met jou lewe. God wil jou gebruik, ook in krisistye. Vertrou Hom om vir jou uitkoms te gee.

Hemelse Vader, ek loof U vir die versekering dat U by my is, dat U my omstandighede ken en die onverklaarbare rampe in my eie lewe laat saamwerk sodat dit deel vorm van u volmaakte plan. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Riaan van Wyk ·

Ek eer die Here daarvoor want partymaal voel dit asof Hy nie daar is nie maar nou weet ek Hy ken my omstandighede en is slaggereed om dit te verander

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.